VIDEO: Drie studente vas na vuiste klap

Drie mansstudente van die NWU se Potchefstroomkampus is onlangs in hegtenis geneem na ’n gewelddadige bakleiery wat Woensdag (17 Julie) op die Bult losgebars het.

Drie mansstudente van die NWU se Potchefstroomkampus is onlangs in hegtenis geneem na ’n gewelddadige bakleiery wat Woensdag (17 Julie) op die Bult losgebars het.

Enrico Robbertze, Andrew Mc Neill en Ruan van der Heever, tweede- en derdejaarstudente van Caput Manskoshuis, het Maandag (22 Julie) op klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die hof verskyn.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is hulle elk op borgtog van R2 000 vrygelaat en moet hulle weer op 12 Augustus in die hof verskyn.

Louis Jacobs, ’n woordvoerder van die NWU, bevestig dat twee van die drie studente wat na bewering by die voorval betrokke was, voorlopig vanuit hul koshuis sowel as van die kampus geskors is terwyl die ondersoek en die dissiplinêre verhoor rakende die klagtes van wangedrag afgehandel word.

“Enige wangedrag of optrede deur enige van ons studente, op en vanaf enige van ons kampusse, wat nie strook met die waardes en etos van die NWU nie, word ten sterkste veroordeel en daar sal in terme van die dissiplinêre prosesse van die universiteit opgetree word teen studente wat hulself hieraan skuldig maak,” sê Jacobs.

Exit mobile version