Skatte uit Potch se verlede -Swart huishoudster emigreer na Swede

Sara Makatemele en Dina Maria was huishoudsters van Alarik Forssman, 'n Sweedse ingenieur wat in Potchefstroom gebly het. Hy vertrek later met sy huishoudsters na Swede om emmigrante te werf sodat hulle 'n nedersetting langs die Vaalrivier kan begin.

In die vorige Herald Midweek (9 Julie) is daar geskryf oor die Sweedse Immigrante wat hulle naby Potchefstroom kom vestig het. Dit is waar Skandinawië Drif 27km buite Potchefstroom vandaan kom.

Oskar Alarik Forssman, was ‘n Sweedse ingenieur wat in die middel van die 19de eeu na Suid-Afrika emigreer het. Hy het eers in Durban, Natal gewerk en later na die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) verhuis.

In 1852 besoek hy Potchefstroom, die hoofstad van die ZAR. Nadat hy die omgewing verken en grond langs die Vaalrivier koop, besluit hy om terug te gaan na Swede en medelandgenote te werf om saam met hom ‘n boerdery-gemeenskap, “Skandinavia”, langs die Vaalrivier te vestig.

In 1862 vertrek hy uit Suid-Afrika terug na Swede. Voor sy vertrek, stel hy ‘n keuse aan sy twee swart huishoudsters van Potchefstroom om saam met hom na Kalmar te gaan. Sara Makatemele (16), toe swanger met ‘n swart man se kind, en Dina Maria (15) stem in om die seereis mee te maak.

Volgens historici het Forssman waarskynlik die twee persone saamgevat as ‘n bemarkingstrategie. Hy wou dalk die Swede se nuuskierigheid oor Afrika prikkel. Hy slaag daarin want toe die skip in Kalmar aankom, het die dorpenaars na die hawe gestroom omdat hulle nog nooit swart mense gesien het nie.

Kort na Sara se aankoms skenk sy geboorte aan ‘n dogter. Sara noem haar baba Emmelie maar later kry sy die bynaam, Millan.

Sara en Dina het ‘n paar maande in Kalmar gebly voor Forssman en sy Sweedse emigrante na Suid-Afrika vertrek. Weer word die swart meisies voor die keuse gestel om saam terug te gaan. Dina Maria verkies om weer terug te gaan Suid-Afrika toe, maar Makatemele wil in Kalmar bly. Sy kry die bynaam “Svarta Sara” (Swart Sara).

In Kalmar werk Sara as ‘n huishoudster vir Cecilia Fryxell, ‘n sendeling en onderwyser. Cecilia was die hoof van ‘n meisieskool, Rostad. Sy moedig meisies aan om akademiese opleiding te kry en Millan bly by haar.

Millan is ‘n besondere skrander leerling en is een van die top studente in haar klas. Sy kwalifiseer later as ‘n musiekonderwyser waar sy klavierlesse vir leerlinge aanbied.

Sara en Millan het nooit getrou nie. In 1900 sterf Millan voor die ouderdom van 40 en drie jaar daarna haar ma nadat sy met longontsteking gediagnoseer is. Albei is in die plaaslike begraafplaas begrawe.

Die twee vrouens is nie vergete nie. Leerlinge van ‘n plaaslike hoërskool in Kalmar hou ‘n paar keer in die jaar ‘n “begraafplaas teater” waar hulle die geskiedenis van Kalmar herleef deur belangrike mense se lewens in hul geskiedenis uit te lig.

BRON: Rafaela Ståbalk Klose. 2018. Mail and Guardian, The other African ‘Sara’ of Europe’s obsession.

Exit mobile version