NewsNews

Polisie jaag dronkbestuurder in Albert Luthuli-rylaan

Sy is een van drie mense wat verlede naweek weens dronk- of nalatige bestuur in hegtenis geneem is.

’n Vrou is verlede Vrydagaand, 5 Julie, weens dronkbestuur in Potchefstroom in hegtenis geneem nadat sy skynbaar vir die polisie weggejaag het toe hulle probeer het om haar voertuig van die pad af te trek.

Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes omstreeks 23:30 in Chief Albert Luthuli-rylaan patrollie gery toe ’n wit motor van voor af teen die aankomende verkeer gery het.

Die motor het toe van bane verander en met ’n hoë spoed verby die polisievoertuig gejaag en by ’n verkeerslig stilgehou. Die polisievoertuig het ’n U-draai gemaak en langs die wit motor by die verkeerslig stilgehou om die bestuurder te vra om af te trek. Die vrou in die wit motor het met ’n spoed weggejaag.

Die polisiebeamptes het die vrou agternagesit en haar van die pad af getrek. Chaka sê toe die polisiebeampte uit die voertuig klim om na die verdagte se voertuig te gaan, het sy skielik weer weggejaag. Die polisiebeamptes het haar tot by Tuscany Ridge gevolg, waar hulle haar uiteindelik kon konfronteer.

“Voor die polisiebeampte enigiets vir die vrou kon sê, het sy erken dat sy onder die invloed van alkohol was,” sê Chaka.

Die vrou is dadelik in hegtenis geneem. Sy is een van drie mense wat verlede naweek weens dronk- of nalatige bestuur in hegtenis geneem is.

Volgens Chaka het polisiebeamptes ook Vrydagaand (5 Julie) omstreeks 23:00 in Walter Sisulustraat patrollie gery toe ’n voertuig van voor af, teen die aankomende verkeer, op hulle afgejaag het.

Volgens Chaka het die voertuig die polisievoertuig byna gestamp, maar het vroeg genoeg uit die pad geswaai, afgetrek en in ’n parkeerplek in die straat stilgehou. Die polisiebeamptes het na die bestuurder van die motor gegaan en gevra waarom hy so nalatig bestuur het.

“Terwyl hy probeer verduidelik het, het die polisiebeamptes besef die man is onder die invloed van alkohol. Hulle het hom in hegtenis geneem,” sê Chaka.

Saterdagaand (6 Julie) omstreeks 21:45 is ’n derde persoon in Rivierstraat ook weens dronkbestuur in hegtenis geneem. Chaka sê ’n polisiebeampte het die Potchefstroomse middestad patrolleer toe sy ’n Ford Ecosport sien wat oor en weer oor die pad ry.
Sy het die voertuig afgetrek en vir die bestuurder om sy lisensie gevra.

“Terwyl die bestuurder met haar gepraat het, kon sy die alkohol in sy asem ruik en sy stem was onduidelik, waarna sy hom gevra het om uit die voertuig te klim,” sê Chaka.

Volgens hom kon die man skaars regop staan nadat hy uit die motor geklim het. Hy is ook weens dronkbestuur in hegtenis geneem.
Chaka waarsku inwoners om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie.

“Ons polisie patrolleer die strate elke aand en hulle sal jou aftrek as hulle sien dat jy nie ordentlik bestuur nie. Mense wat onder die invloed van alkohol bestuur, stel ander se lewens in gevaar en ons sal altyd seker maak hulle kom nie daarmee weg nie,” verseker Chaka.

Hy bedank die polisiebeamptes wat die naweek so paraat was om die drie mense vas te trek en moedig hulle aan om so voort te doen.

Related Articles

Back to top button