Gimmies hoof terug van Amerika

Gimmies se hoof, mnr. Roelof Oosthuizen, het pas teruggekeer van ’n skole-konferensie wat hy in Amerika bygewoon het.

Gimmies se hoof, mnr. Roelof Oosthuizen, het pas teruggekeer van ’n skole-konferensie wat hy in Amerika bygewoon het.
Dit na afloop van Gimmies wat in Maart vanjaar as die beste kwintiel vier skool in die land aangewys is.

Die top kwintiel twee-, drie- en vier skole in vanjaar se nasionale top skoletoekennings se hoofde het die geleentheid gekry om dié Model Schools Conference 2019 in Washington by te woon.

Oosthuizen was een van ses Suid-Afrikaners – drie skoolhoofde, twee kringbestuurders en die adjunk-direkteur generaal van onderwys. Hulle was die enigste Suid-Afrikaners wat die voorreg gehad het om dié konferensie te kon bywoon.

Mnr. Roelof Oosthuizen in Suid-Afrika. Foto’s: Verskaf

Meer as 5 000 mense van sowat 30 verskillende lande het die konferensie bygewoon en daar was sowat 130 verskillende sessies en lesings wat in die loop van die week bygewoon kon word.

Daar was ’n paar kernsprekers wat elke oggend die dag geopen het. Daarna kon gaste na die verskeie lesings van hul keuse gaan.
Oosthuizen sê die konferensie is baie soortgelyk aan die hoofde-simposium wat in Suid-Afrika aangebied word.

“By van die sessies leer mens regtig baie, maar ander sessies raak ons nie eintlik nie,” sê hy. Hy beskryf die konferensie as ’n baie goeie leerervaring.

“Dit sal wonderlik wees as al die personeel dit kan bywoon,” sê hy. Volgens hom sal elke onderwyser by die skool heel moontlik iets anders by die konferensie leer wat hulle dan in hul klaskamers sal wil toepas.

Mnr. Roelof Oosthuizen saam met die ander twee skoolhoofde en twee kringbestuurders van Suid-Afrika op die lughawe.

“Dit is belangrik om te sien dat daar wêreldwyd ’n klompie beginsels is wat dieselfde bly,” sê hy.
Hy sê dit lyk asof Suid-Afrikaanse skole en oorsese skole baie dieselfde beginsels deel wanneer dit kom by gees, kultuur en liefde teenoor kinders by die skool.

“Kinders bly kinders reg oor die wêreld en maak nie saak of dit 1770, 1970 of 2017 is nie, sekere goed bly maar dieselfde,” sê hy.

Hy sê verder ’n boodskap wat baie sterk tydens die konferensie na vore gekom het, is die feit dat onderwys ’n skuif maak na in plaas daarvan dat mense net kennis moet hê, hulle dit ook moet kan gebruik en toepas.

Oosthuizen sê na afloop van die konferensie kan hy met trots sê dat Gimmies dit reg doen.

“Baie van die goed waaroor hulle gepraat het, is in elk geval goed wat ons reeds by ons skool doen,” sê hy.

Hy bedank die departement van basiese onderwys wat hom die geleentheid gebied het om die konferensie te kon bywoon.
Behalwe vir die konferensie in Washington het hy en sy vrou kans gehad om ’n paar ander stede en dorpe ook te besigtig.
Hy was vir vier dae in New York en vir twee dae in die platteland in onder meer Philadelphia, Baltimore en Lancaster, Maryland.

Oosthuizen by die Withuis in Washington DC.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version