NewsNews

Mnr. Wêreld titel wink vir oud-Puk

‘n Oudstudent aan die Puk is finalis in die Meneer Wêreld Suid-Afrika kompetisie.

Miskien lê daar ‘n skoonheidsgeheim by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom opgesluit. Nie alleen was Demi-Leigh Nel-Peters (Mej. Heelal 2017) ‘n student aan die NWU nie, maar is ‘n oudstudent aan dieselfde universiteit vanjaar as finalis in die Meneer Wêreld Suid-Afrika kompetisie aangewys.

Tiaan Kleinhans wat vanjaar in Maart ‘n graad in toerisme verwerf het, het twee weke gelede gehoor hy is een van 13 finaliste in die Meneer Wêreld SA-kompetisie. Hy werk tans as data-analis by Platinum Life in Potchefstroom.

Ek ontmoet hom by sy werk vir ‘n onderhoud. Lank, lenig en breedgeskouerd lyk hy soos enige ander mansstudent.
Dit is eers wanneer hy voor jou sit dat jy bewus word van sy perfekte kort geskeerde hare en baard. Sy ligte blou oë is vriendelik en hy stel jou dadelik op jou gemak met sy breë glimlag.

Hy is afgerond en die verpersoonliking van vandag se metro man – behalwe dat hy nie net op homself ingestel is nie. “’n Netjiese man,” sou my ma hom opsom.

 

Die Meneer Wêreld-kompetisie word vanjaar in die Filippyne in Bay City, Pasay aangebied. Dit word deur die Mej. Wêreld-kompetisie geborg en deelnemers gaan in bergfietsry, ‘n marathon wedloop en ’n talentkompetisie kompeteer.

In die verlede het Meneer Suid-Afrika ons land in die Meneer Wêreld-kompetisie verteenwoordig. Die Meneer Wêreld Suid-Afrika is egter ‘n nuwe kompetisie waarin deelnemers vir die groot titel kan meeding.

Tiaan is verras en opgewonde oor sy finalisstatus. Een van sy vriendinne het hom met die goeie nuus gebel. Die kompetisie het sosiale media gebruik om die finaliste bekend te maak en het op 20 Junie groot afwagting geskep. Elke uur is ‘n finalis aangekondig. Natuurlik het sy vriende Facebook en Instagram fyn dopgehou.

Die finaliste ding hierdie Saterdag tydens ‘n gala-aand by Casa Toscana in Pretoria mee.Hoewel hy vlinders op sy maag het vir Saterdagaand, is hy gefokus en weet hy hoe om spanning te hanteer. My geld is op hom, want nie alleen is hy aantreklik en sjarmant nie. Hy het ook baie ondervinding in skoonheidskompetisies opgedoen. Die titels wat hy al gewen het, is langer as my inkopielys.

Sy eerste kompetisie waaraan hy deelgeneem en gewen het was in 2010 toe hy as Meneer Toerisme Suid-Afrika gekroon is. In 2011 was hy as Meneer Junior Suid-Afrika gekroon en in 2012 die wenner van Meneer Junior “King of the World”. Hy was ook in 2018 die tweede prins van die Meneer en Mejuffrou Kampus-kompetisie aan die NWU.

Tiaan se universiteitsopleiding was sover vir hom ‘n hoogtepunt. As huiskomiteelid van Thaba-Jäh Mansdorpskoshuis het hy die kunste portefeulje hanteer en dit baie geniet om leiding met die sêr-kompetisies, eerstejaarskonsert, debat en toneel te gee.

Hy wou aanvanklik in 2013 vir ‘n regsgraad inskryf, maar die uitslae van ‘n aanlegtoets het hom oorreed om eerder toerisme te studeer. Hy is nie ‘n oomblik spyt oor sy keuse nie, want reis was nog altyd sy gunsteling tydverdryf. “Ek hou daarvan om op ‘road trips’ saam met my vriende te gaan en plekke te verken,” sê hy.

Kaapstad is sy gunsteling toerismebestemming, maar hy wil nog baie graag die natuurskoon van die Transkei beleef. Met sy studies het hy ‘n liefde vir erfenis en geskiedenis ontwikkel en wil baie graag eendag in ekotoerisme spesialiseer. “Suid-Afrika het die beste beleid in natuur- en wildbewaring, maar die toepassing daarvan ontbreek. Ek sou graag hier ‘n bydrae wil maak,” sê hy.

Sy raad aan die jong manne van Suid-Afrika is dat hulle geleenthede moet aangryp en nie bang moet wees om buite die norm te leef nie. “Moenie die lewe te ernstig opneem nie”, sê hy.

Related Articles

Back to top button