Vier en vlam vir geldmaakplan

Vier en vlam vir geldmaakplan

Hulle is vier, veertien, en vuur en vlam om hul onderneming suksesvol te bedryf. Die Du Plooy-vierling Anika, Marlizé, Nicholas en Cronje, het op 6 Julie sommer flink sake gedoen met hul roomys, melkskommel, wafel en ”bubble tea” stalletjie by die Hartelusmark in Parys.
Waar hul verlede jaar nog net roomys by die mark verkoop het, het pa Nico en ma Annelize vir die vierling se 14de verjaardag op 1 Julie, besluit om hul jong entrepreneurs ’n hupstoot te gee met dié stalletjie.
Pa Nico het die netjiese toonbank gebou, en deel van hul geskenk was naas die toerusting om die melkskommels, roomys en wafels te kan maak, ook hul eerste voorraad.
Die vier Gimmies se geldmaakplanne het al in graad 7 begin danksy ’n entrepreneursdag stalletjie by hul skool. Toe al hul lekkergoed nie die dag uitverkoop het nie, het hulle die oorblywende lekkergoed by die Hartelusmark gaan verkoop.
Hul sukses het hul aangespoor om te begin roomys verkoop by die mark.
Nico en Annelize het so dan en wan gaan hand bysit en toe die blink plan gekry om vir die vier se verjaardag hulle te help met ’n behoorlik toegeruste stalletjie.
Annelize vertel dat dit vir hulle belangrik is dat hul kinders die waarde van geld sal besef en van jongs af moet leer om met geld te werk. Nou moet die vierling self boekhou en spaar vir hul volgende voorraadaankope.

En behalwe dat hulle slim geldmaakplanne leer, leer dié vier ook die fyn kunsies van besigheid doen en hoe om jou kliënte koning te laat voel.

 

 

Exit mobile version