Plaasaanvalle – Potchefstromer vra slagoffers moet praat

“Duisende kan letterlik die lewens van miljoene red,” sê hy.

Van Januarie tot einde Mei vanjaar het daar volgens AfriForum statistiek reeds 184 plaasaanvalle met 20 plaasmoorde in Suid-Afrika plaasgevind. In die Noordwes Provinsie was daar 28 plaasaanvalle en vier moorde.

’n Potchefstroomse prokureur het onlangs ’n projek geloods wat hy glo sal help om die wêreld van dié sensitiewe kwessie in Suid-Afrika bewus te maak.

Willie Jordaan het vanjaar met Project Survivor South Africa begin. Die projek vra mense wat slagoffers van plaasaanvalle was, om in ’n video oor hul ervaring te praat en in detail te beskryf wat met hulle gebeur het.

Jordaan het hande gevat met WMP Justice Review in die VSA om te help om dié video’s te gebruik om die Amerikaanse regering en spesifiek president Donald Trump, van die probleem bewus te maak.

Hy glo indien hy genoeg video’s kry, dit wel ’n verskil sal maak in die lewens van baie Suid-Afrikaners.

“Duisende kan letterlik die lewens van miljoene red,” sê hy.

Jordaan het ook die projek aan Tammy Koelling, stigter van Words Matter Publishing in Amerika voorgestel. Koelling het in November verlede jaar ’n video oor volksmoord op witmense in Suid-Afrika op YouTube gepubliseer. Sy is al ’n geruime tyd betrokke by die bewusmaking van ras-verwante moorde in Suid-Afrika en is verantwoordelik vir die publisering van die video’s wat Suid-Afrikaners vir die projek instuur.

“Sy sien daar is ’n groot moontlikheid dat dit sal werk, so sy ondersteun die projek,” sê Jordaan.

Jordaan het eers met die projek begin deur mense in Potchefstroom en die omliggende dorpe te vra om vir hom briewe te skryf indien hulle slagoffers van plaasaanvalle of gewelddadige aanvalle in hul huise was. Hy het soveel navrae daaroor gekry dat hy besluit het om ’n stemboodskap te maak met inligting oor die projek. Dit het soos ’n veldbrand versprei en kort voor lank het mense van oraloor daarop gereageer.

Later het hy besluit om dit te verander en slagoffers landwyd te vra om eerder video’s te maak waarin hulle vertel oor wat met hulle gebeur het.

In hierdie video verduidelik Jordaan in meer detail waaroor die projek gaan en hoe video’s ingestuur kan word:

Jordaan sê hy het al ’n hele klomp video’s ontvang. Die Coetzee-gesin wat vroeër vanjaar op hul kleinhoewe in Vyfhoek aangeval is, is ook deel van die projek. Marlu Coetzee (9) is ernstig beseer toe ’n rower hom met ’n voorwerp in die gesig geslaan het terwyl die gesin geslaap het. Sy pa, Mario, het ook baie ernstige kop- en gesigwonde tydens die aanval opgedoen.

Nanna Viviers, die jong Potchefstroomse vrou wat verlede jaar in haar huis in Bailliepark deur ses gewapende rowers aangerand en byna verkrag is, het haar ervaring ook gedeel met die doel om die projek ’n sukses te maak.

Jordaan sê hoe meer video’s hulle tydens die projek kry, hoe groter is die kans dat die video’s die Amerikaanse regering gaan bereik.
Hy sê dit kan Suid-Afrika help deurdat Trump die Volksmoord wet (Elie Wiesel Genocide Prevention Act wat op 14 Januarie vanjaar deur Trump geteken is) op Suid-Afrika kan toepas en dit makliker sal maak vir mense om die land te verlaat.

“As Suid-Afrika ’n genocide-status het, kan geen land waarheen Suid-Afrikaners wil gaan, hulle weier nie. Die tweede ding wat Trump kan doen is om soveel druk op ons regering toe te pas dat hulle gedwing sal word om ernstige stappe te neem om aanvalle en aanhitsing tot geweld te stop – dit moet eenvoudig stop,” sê Jordaan.

“Indien die tipe geweld nie ophou nie kan dit tot totale anargie lei,” sê hy.

Jordaan sê wanneer hulle genoeg video’s het, gaan dit op ’n program in die VSA uitgesaai word vir die wêreld om te sien. Hy glo dat die program teen middel Julie sal begin uitsaai.

* Mense wat slagoffers was van plaasaanvalle of aanvalle in hul huise wat ongewoon gewelddadig was, kan hul video’s direk vir Tammy Koelling by tammy@wordsmatterpublishing.com stuur.

Vir meer inligting skakel Willie Jordaan by (018) 294 8583 of law@icon.co.za.

Exit mobile version