NewsNews

Eerste vroue burgemeester van Potchefstroom

Vrouens in Suid-Afrika het eers in 1930 stemreg gekry. Dieselfde jaar waarin Aletta Johanna Elizabeth Nel, die eerste vroulike burgemeester van Potchefstroom geword het.

Vrouens in Suid-Afrika het eers in 1930 stemreg gekry. Dieselfde jaar waarin e eerste vroulike burgemeester van Potchefstroom geword het.

Die prestasie was nogal ‘n mylpaal vir ons konserwatiewe dorpie in daardie tyd. Anette Combrink, voormalige rektor van die Noordwes Universiteit (Sep 2004 – Des 2009) sou eers in 2012/2013 vir agt maande die volgende vroulike burgemeester word.

Aletta was vir drie termyne burgemeester in 1930/1931, 1936/1938 en 1948/1949.

Elmarie Weyers, kurator van die Potchefstroomse Museum, het oor Aletta Nel genealogiese navorsing gedoen wat in die FAMNEA-nuusbrief (2010, Jaargang 7, uitgawe 1) van die Genealogiese Genootskap van SA, Noordwestak verskyn het.

Sy is op 9 Februarie 1886 op Steynsburg in die Oos-Kaap gebore. Sy was die dogter van Johann Heinrich Bruchauser Rossouw (*Kaapstad 1842.06.23) en Aletta Johanna Elizabeth van Zyl (*Middelkraal ca. 1858).

As dogtertjie het sy saam met haar ouers na Potchefstroom verhuis. Hier het sy by die Kloosterskool haar skoolopleiding ontvang.

Tydens die Anglo-Boereoorlog is sy saam met haar ma, jonger broer en suster na die Merebank Konsentrasiekamp in Natal gestuur. Volgens vertellinge het sy die Engelse daar al hul dae gegee.

Sy is later met John Peter Nel getroud wat voor haar van 1918-1920 burgemeester van Potchefstroom was. Uit hul huwelik is twee kinders gebore – Alec (ongetroud en in 1969 oorlede) en Mercia (*26 Junie 1908 – 5 Maart 1975).
As jong vrou het sy ‘n leidende rol in omtrent elke denkbare komitee vervul. Vir 17 jaar was sy lid van die Transvaalse Munisipale Vereniging. Sy is twee keer tot president van dié vereniging verkies en die eerste vrou wat hierdie pos beklee het.

Sy het ‘n passie gehad om vir haar mense te werk: “Municipal work has so seeped into the very fabric of my being that I shall never be otherwise than a willing aid in anything that is undertaken in this town for the promotion of its well-being.”

Naas al haar verpligtinge, was sy onder andere lid van die Koringbeheerraad, die Nasionale Behuisingsraad, die Nasionale Advieskommissie vir Verbruikers, die Sitrusraad asook die Dranklisensiërings- en Beheerraad.

Sy het ook op die welsynsterrein ‘n groot bydrae gelewer. Sy was president van die Nasionale Raad van Kindersorg en voorsitter van die Potchefstroomse Kindersorg en Liefdadigheidsorganisasie en ten spyte van haar druk program het sy nog tyd gevind om op die skoolrade van verskeie skole te dien.

In 1949 het sy na 25 jaar se diens as raadslid by die Potchefstroomse Stadsraad uitgetree. In haar afskeidsrede het sy gesê: “The road has never been easy, but it has always yielded interest and knowledge – knowledge often that made me love my dog the more, but nevertheless knowledge that helped to give me a wider perspective that I could never have found had I not been given the privilege to serve these many years.”

Sy het vir haar waardevolle bydrae in 1947 drie medaljes, onder meer die King’s Coronation-medalje, ontvang.

Aletta Nel is in die ouderdom van 88 jaar op 5 Oktober 1974 in die Klerksdorpse Hospitaal oorlede. Ten tye van haar dood het sy in Retiefstraat 77 in Potchefstroom gewoon. Haar dogter, Mercia, met wie sy ‘n besondere nou band gehad het, is vyf maande na haar oorlede.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button