NewsNews

Potchefstroom groet ‘n rolbal-legende

Die voormalige President van Rolbal Suid-Afrika, die Potchefstromer, mnr. Piet Breitenbach (Petrus Johannes), is verlede Woensdag (22 Mei) in die ouderdom van 67 jaar oorlede.

“Hoe verwoord ons wie pa was? Om dit wat binne ons is vas te lê op papier sal ’n ewigheid vat. Hoe sê jy dankie vir ’n leeftyd se herinneringe? Onmoontlik! Ons kan net uitleef wie pa was… Vir ons is dit nie vir ewig verby nie, nee, pa sal bly voortleef in jou naam. Ons sê ook nie vaarwel nie, net totsiens, tot weersiens “OU GROTE” – Valie, jou kinders en kleinkinders.”

Die voormalige President van Rolbal Suid-Afrika, die Potchefstromer, mnr. Piet Breitenbach (Petrus Johannes), is verlede Woensdag (22 Mei) in die ouderdom van 67 jaar oorlede.

Hy het die hoogste amp in die sport as administrateur bereik en sy liefde vir die sport het ook deurgesypel na sy vrou Corrie en seun Pierre, wat albei die land op die rolbalbaan verteenwoordig het.
Mnr. Jan Koekemoer, huidige President van Noordwes Rolbal, skryf soos volg oor mnr. Breitenbach:

“Namens die Uitvoerende Bestuur van Noordwes Rolbal en al die spelers van die onderskeie Klubs, ons innige simpatie met die afsterwe van Piet. Sy afsterwe laat ’n groot leemte wat moeilik gevul kan word.”
Mnr. Koekemoer sê verder dat mnr. Breitenbach in sy eie reg ’n ikoon in rolbalkringe was en hy was bekend vir sy toewyding en passie vir rolbal regoor die land.

“Vir my persoonlik was hy ’n mentor by uitstek en ’n voorbeeld van toegewydheid teenoor sy familie en sy sport,” het mnr. Koekemoer gesê.

Sy begrafnisdiens het Woensdag, 29 Mei vanuit die Nederduitsch Hervormde-gemeente Grimbeekpark plaasgevind en is deur ds. Koos Rautenbach waargeneem.

– Deur Piet de Jager 

 

Related Articles

Back to top button