NewsNews

Handgeskrewe Bybel word in Wittenberg, Duitsland uitgestal

Die handgeskrewe Bybel wat die Nederduitsch Hervormde Gemeente (NHG) Potchefstroom Suid in 2017 voltooi het, word Saterdag (4 Mei) aan die bestuur van die Martin Luther-huismuseum in Wittenberg, Duitsland oorhandig.

Die handgeskrewe Bybel wat die Nederduitsch Hervormde Gemeente (NHG) Potchefstroom Suid in 2017 voltooi het, is Saterdag (4 Mei) aan die bestuur van die Martin Luther-huismuseum in Wittenberg, Duitsland oorhandig. Ds. Geo Smit, predikant van die gemeente, sal dit persoonlik afgee waarna dit deel van ‘n uitstalling oor die lewe en werk van Martin Luther sal vorm.

“Die bestuur van die Luther-museum was aangenaam verras om te hoor van die inisiatief uit die suidpunt van Afrika”, sê ds. Geo Smit. Die handgeskrewe Bybel is op A3 grootte bladsye aan die eenkant geskryf en is in 4 dele gebind wat altesaam 17kg weeg. Dit sal vir ongeveer 5 jaar in Wittenberg uitgestal word, waarna dit weer vir ‘n ander uitstalling na die Bybelmuseum in Washington sal verskuif. Eers daarna sal dit weer Potchefstroom toe kom.

Die oorskryf van die Bybel in 2017 was die NHG Potchefstroom Oos se deelname aan die 500 jarige feesviering van die Bybel se eerste vertaling toe Martin Luther dit in Duits vertaal het.  Die kerk het ‘n groot reklameveldtog geloods en nie alleen Potchefstromers het hieraan deelgeneem nie, maar mense regoor die Noordwes en Gauteng het hierheen gekom om die bybel in hulle eie handskrif oor te skryf. Die proses het 6 dae lank geduur.

Ds. Smit sê `n uiteenlopende groep van 450 skrywers het deelgeneem. Die jongste was agt jaar oud en die oudste 90 jaar. Die oorskryfproses was baie mooi beplan en elke skrywer het bloot ‘n gegewe gedeelte gekry om te kopieër. Die skrywers kon nie noodwendig hulle teksgedeelte in konteks plaas nie. Een van die staaltjies wat ds. Smit van die projek vertel, is ‘n student wat na die tyd by hom gekla het dat hy met sy teks in die middel van ‘n “fight” was maar teen die einde nie eens geweet het wie het die “fight” gewen nie.

Die projek het R 30 000 ingebring waarmee bybels gekoop en uitgedeel is.  Daarna het die kerk nog ‘n donasie van R 30 000 ontvang waarmee bybels gekoop is. Dié bybels moet nog uitgedeel word.

Afskrifte van die handgeskrewe Bybel is in A3 (weerskante gedruk) en A4 (weerskante gedruk) beskikbaar.

Related Articles

Back to top button