NewsNews

Rapporte herrie by laerskool

Minstens drie ouers wat leerders in Laerskool ML Fick het, is erg teleurgesteld in dié skool aangesien hulle ouers met agterstallige rekeninge na die finansiële kantoor stuur om hulle kinders se rapporte te gaan afhaal.

Minstens drie ouers wat leerders in Laerskool ML Fick het, is erg teleurgesteld in dié skool aangesien hulle ouers met agterstallige rekeninge na die finansiële kantoor stuur om hulle kinders se rapporte te gaan afhaal.
Dit terwyl die ander ouers hulle kinders se rapporte in die skoolsaal gaan haal. Volgens die ouers is dit erg vernederend veral omdat beide kinders en ouers weet hoekom die betrokke kinders en ouers in die ry voor die finansiële kantoor staan.
Op ’n omsendbrief wat die Herald onder oë gehad het, word dit duidelik gestel dat ouers wat agterstallig is met skoolfondse hul kinders se rapporte by die finansiële kantoor moet ontvang. Een van die ouers wat deur die praktyk geraak word meen dat dit daarop neerkom dat rapporte van kinders weerhou word.
’n Ma wat anoniem wou bly het ’n graad-drie seun in ML Fick en sê dat sy in beide die derde- en vierde kwartaal verlede jaar gesukkel het om haar seun se rapport by die skool te kry.
Volgens haar moet ouers ’n reëling vir afbetaling met die skool tref indien hulle skoolgeld agterstallig is. Dan eers kan die ouer die kind se rapport by die skool gaan haal.
Sy sê dat personeel by die skool se finansiële kantoor onprofessioneel teenoor ouers optree wanneer hulle vra om ’n reëling te tref.
“Ons het ons eie besigheid en soms gaan dit goed, maar soms nie. Wanneer daar nie werk inkom nie, sukkel ons om daardie maand die skoolgeld te betaal,” sê die ma.
Ander ouers het ook oor dieselfde kwessies gekla.
Volgens die ouers moet rapporte in die skoolsaal afgehaal word maar ouers met agterstallige rekeninge moet glo hul kinders se rapporte by die finansiële kantoor afhaal.
“Daar staan almal in ’n lang ry en almal om jou weet nou natuurlik waarom jy daar is, en nie in die saal nie,” sê een van die ouers.
Sy sê dat wanneer ’n mens voor in die ry kom, word ouers twee-twee in die kantoor ingeroep.
“So ek moet nou daar voor ’n ander ouer my finansiële omstandighede vir die skool verduidelik. Dit het mos niks met ander mense te doen nie en is vernederend,” sê sy.
Nog ’n ouer wat uit vrees van viktimisasie ook anoniem wil bly het die lang rye en bespreking van sensitiewe finansiële omstandighede beaam.
“Ek verstaan dat die skool op ’n manier skoolfonds moet invorder, maar dit moet op ’n beter manier gedoen word,” het die ma gesê.

’n Derde ouer wat ook uit vrees van viktimisasie anoniem wil bly, voel dat ouers deur die personeel geboelie word.
“Hulle stel bloot nie belang in wat ek te sê het nie. Wanneer ek ’n reëling probeer maak dan keur hulle dit nie goed nie. As ek moet kies tussen ’n dak oor my kind se kop of kos in sy maag en skoolfonds moet ek ongelukkig skoolfonds los,” het sy verduidelik.

M.L. Fick hou nie rapporte terug nie

Joggie Swanepoel, die voorsitter van die skool se beheerliggaam sê egter dat geen rapport deur die skool teruggehou sal word nie.
“Dit is onwettig en ons is glad nie bewus van enige personeellid wat rapporte sal terughou nie,” sê hy.
Hy sê ook dat ’n ouer slegs hul kinders se rapporte by die finansiële kantoor moet gaan afhaal indien die skool nie die ouer vooraf in die hande kon kry om ’n reëling te tref nie.
“Ouers wat vooraf telefonies reël om hul rapporte te kom afhaal, kom haal dit saam met die res van die ouers in die saal, al is hul rekeninge agterstallig en al kan hulle nie ’n reëling vir betaling maak nie,” verseker Swanepoel.
Hy sê indien daar enige ouer is wat se rapporte weerhou is, hulle die beheerliggaam kan kontak. Die kontakbesonderhede is in die leerders se huiswerkboeke beskikbaar.

Skole skryf gemiddled 25% van inkomste af weens wanbetaling

Riana Vos, provinsiale bestuurder van FEDSAS (die nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame) in die Noordwes, het bevestig dat dit onwettig is om kinders se rapporte terug te hou weens skoolfondse wat agterstallig is.
“Artikel 40 van die Skolewet bepaal dat ouers aanspreeklik is vir die betaling van skoolgeld, tensy hulle geheel en al vrygestel is daarvan. In Regulasie 4 van die Regulasies vir die Vrystelling van ouers vir die betaling van skoolgelde in openbare skole, word dit uitgelig dat ‘n ouer jaarliks moet aansoek doen om in aanmerking te kom vir vrystelling. Sommige ouers is laks en versuim om kontak met die skool te maak. Skole is dus soms genoodsaak om alternatiewe reëlings te tref om kontak met die ouers te maak.
“Ons aanbeveling aan skole is verder dat indien hulle hierdie roete wil volg, alle ouers versoek moet word om die rapporte by die skool af te haal. Sodoende skep jy nie ‘n situasie waar sommige leerders rapporte kry en ander nie. Alle ouers haal dan eenvoudig rapporte by die skool af en tree die skool in gesprek met die ouers wie se skoolgeld uitstaande is en bedank die ouers wat reeds hulle skoolgelde betaal het,” het sy gesê.
FEDSAS se omgewingsanalise van 2014 het aangedui dat Hoërskole gemiddeld meer as 25% van hulle inkomste moet afskryf as gevolg van onbetaalde skoolgeld en vrystellings.
“Daar was in 2014 meer wanbetalers as ouers wat suksesvol aansoek gedoen het vir vrystellings,” het Vos gesê.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button