VIDEO: Studente maak Bult skoon

'n Groep studente het Dinsdagoggend (22 Januarie) van 06:00 af die Cachetpark op die Bult skoon gemaak.

 

‘n Groep studente het Dinsdagoggend (22 Januarie) van 06:00 af die Cachetpark op die Bult skoon gemaak.

Dié aksie is deel van die planne om die Bult veiliger en skoner te maak.

Volgens prof. Fika Janse van Rensburg, hoof uitvoerende beampte van die Cachet Improvement District (CID), is die bestuur tans besig om die tenderdokumente vir die aanvullende dienste in die afgebakende Bult-area voor te berei.
“Ons hoop om hierdie tenderdokumente binne die volgende week beskikbaar te stel, met die sluitingsdatum vir die tenders teen die eerste week in Februarie,” het Janse van Rensburg gesê.
Twee sake kon egter nie wag tot dié dienste in werking tree nie.
Die netjies maak van Cachetpark en verwydering van kos-afval van die 28 eetplekke op die Bult.
Volgens Janse van Rensburg is spesiale reëlings getref om die gras van die park netjies te hou en die beddings te versorg.
Die Kampus Studenteraad (KSR) het ook ooreengekom dat een KSR-lid met sy/haar UK-lede elke oggend tot einde Februarie die totale park skoonmaak. Alle vullis word dan verwyder.
“Deur uitstekende samewerking van die Kenneth Kaunda Distriksmunisipaliteit se Departement van Omgewingsgesondheid en die eienaars van die eetplekke op die Bult, is goeie reëlings getref om die hantering van die kos-afval te optimaliseer,” het Janse van Rensburg gesê.
Die oprigting van die Potchefstroom Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se gemeenskapsentrum en sekuriteitsaanmeldpunt is ver gevorder. Die verwagting is dat dit voor einde Februarie operasioneel sal wees.
Janse van Rensburg het almal bedank wat die inisiatief geneem het om dit ‘n werklikheid te maak.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version