NewsNews

Plaasaanval: boer brand amper in sy huis

“Vandag gaan jy braai saam met die huis.” Dit was die vreesaanjaende woorde wat Andrew Marais, ’n boer van Potchefstroom, vroeg Woensdagoggend moes aanhoor net voordat petrol oor sy hele lyf gegooi is.

“Vandag gaan jy braai saam met die huis.” Dit was die vreesaanjaende woorde wat Andrew Marais, ’n boer van Potchefstroom, vroeg Woensdagoggend moes aanhoor net voordat petrol oor sy hele lyf gegooi is.

Marais is vroeg Woensdagoggend (14 November) in sy plaashuis net buite Potchefstroom deur minstens ses mans oorval, beroof en byna verbrand.

Hy het vroeg die oggend (tussen 03:00 en 04:00) wakker geword van ’n gehamer aan die deur en iemand wat sy naam uitroep. Toe hy opstaan het hy iets gehoor val in die kombuis.

“Ek besef toe dat daar reeds iemand in die huis is en wou dadelik uit die huis kom,” sê hy. Toe hy by die voordeur kom was daar drie mans met klapmusse oor hul gesigte. Hulle het hom gegryp, rondgeruk en buite na sy motor gesleep.

Dit is al wat van Andrew Marais se motor oor is na die brand. Foto: Verskaf
Dit is al wat van Andrew Marais se motor oor is na die brand. Foto: Verskaf

“Hulle het my heeltyd gevra vir die karsleutel, maar ek het dit in my vrou se bakkie vergeet. Hulle het gedreig om die kar aan die brand te steek as ek nie die sleutel gee nie,” sê hy.

Nadat een van die mans die motor se venster sonder sukses probeer breek het, het die mans hom weer terug in die huis geneem en gesê dat hy die kluise, waarin kontant en vuurwapens gestoor is, moet oopsluit.

Die een man het toe vir hom gesê: “Vandag gaan jy braai saam met die huis,” waarna hy in die kombuis se rigting die woorde “vula gas” (maak oop die gas) geskree het.

“Die volgende oomblik gooi ’n ander een my met petrol. Dit het tot in my mond gekom,” sê Marais. Dit is eers toe een van die mans vir Marais sê om op die bed te gaan lê, dat hy besef het hy het ’n kans om terug te baklei aangesien sy vuurwapen onder sy kopkussing weggesteek was.

“Ek gryp toe die vuurwapen en vuur ’n skoot af. Toe hulle omdraai om weg te hardloop het ek hulle agternagesit.”
Net toe Marais naby die voordeur kom het hy ’n ontploffing in die kombuis gehoor. Die vlamme het deur die gang tot by hom versprei.

“Ek het gevoel hoe die vlamme net-net aan my bene begin raak toe druk die slag van die ontploffing my by die voordeur uit. As ek drie sekondes later by die voordeur uit was, sou die petrol op my lyf vlam gevat en sou dit te laat wees,” sê hy.

Marais se huis, motor, vierwielmotorfiets en al sy besittings in die huis het uitgebrand. Dit was nie die eerste keer dat Marais se plaas geteiken word nie. Hy het al menige kere onder veediefstal deurgeloop en daar is al baie by die plaashuis ingebreek.

Sowat drie jaar gelede, nadat al die gesinshonde op die plaas vergiftig is, het sy vrou en kinders in stad toe getrek.

“Dit is net te onveilig,” sê hy. Marais het toe in die aande alleen plaas toe gery en daar gaan slaap omdat hy nie sy vee alleen kon los nie.

In Julie vanjaar is hy deur drie mans op sy plaas met die dood gedreig nadat hy hulle voorgekeer het.

“Die mans was besig om batterye van die selfoontoring op die plaas te steel. Toe hulle weghardloop het een geskree dat hulle my gaan kom doodmaak,” sê hy.

“Waarheen nou?” vra hy moedeloos. “Ek kan nie terug plaas toe nie, want wat as hulle terugkom? Ek kan nie die plaas verkoop nie, want niemand koop nou plase nie omdat dit onveilig is. Ek kan ook nie alles net so los nie, want dan gaan misdadigers in elk geval my plaas kom oorneem.”

Volgens polisiewoordvoerder, ao. Mpho Manyoba, is niemand nog in hegtenis geneem nie. ’n Saak van huisroof en brandstigting word ondersoek.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button