Tekort aan hulpbronne kniehalter Ventersdorp speurders

Slegs een voertuig wat werk, geen fotostaatmasjiene in die kantoor nie en slegs een “toner” wat in die kantoor gedeel word.

Slegs een voertuig wat werk, geen fotostaatmasjiene in die kantoor nie en slegs een “toner” wat in die kantoor gedeel word.
Dit is hoe dinge glo by die speurtak van Ventersdorp gaan. Volgens ’n betroubare bron gaan dit al vir byna ’n jaar so by dié kantoor aan.
“As mens iets wil laat druk, dan moet jy eers die “toner” uit een drukker gaan haal en dit in ’n ander drukker sit voordat jy enige iets kan druk,” vertel die bron. Daar is glo slegs een voertuig wat in ‘n werkbare toestand is, wat deur ongeveer 15 ondersoekbeamptes gedeel moet word.
Volgens die bron kan speurders nie altyd by slagoffers van misdaad uitkom nie, aangesien daar nie altyd voertuie beskikbaar is nie.
Die meeste van die voertuie staan glo al maande in die hawe met klein probleme soos batterye wat vervang moet word. Sowat twee maande gelede is die kantoor se fotostaatmasjiene glo kom haal nadat ’n kontrak met die verskaffer opgeskort is.
Dit het speurders in die posisie gelos dat hulle glo na die polisiestasie op die dorp moet ry, elke keer as hulle fotostate wil maak.
Volgens kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, is die prentjie wat deur die Herald se bron geskets word, nie heeltemal waar nie.
“Alhoewel daar ’n tekort aan voertuie is, omdat baie voertuie in die hawe staan, is alternatiewe voertuie aan speurders beskikbaar gestel. Daar is nou weer voertuie wat die speurders kan gebruik,” het Myburgh gesê.
Volgens haar is daar vyf fotostaatmasjiene by die stasie waarvan die kontrakte van twee einde verlede maand verval het. Die verkrygingsprosedure om “toner” aan te koop is ook op ’n gevorderde stadium en behoort binnekort opgelos te wees.
Volgens Myburgh het die onlangse betogings in Ventersdorp sommige van die administratiewe pligte van die polisie beïnvloed.
“Ten spyte van die uitdagings is die speurders van Ventersdorp se werk nog bevredigend. Dienslewering aan die gemeenskap bly ‘n prioriteit vir die stasiebevelvoerder, lt.kol. Robberts,” het Myburgh gesê.

Exit mobile version