Prof. Fika sal altyd deel wees van die NWU

Stuur jou persoonlike groeteboodskap aan prof. Fika na manjafika@nwu.ac.za. Maak seker dat jou naam, van, selnommer en e-pos adres onderaan jou boodskap verskyn. Boodskappe kan nog tot einde November gestuur word.

Daniël Hartzer

Meeste studente, ouers en inwoners van Potchefstroom ken die baie bekende glimlag en vrolike groete wat hand aan hand loop met prof. Fika Janse van Rensburg, beter bekend as prof. Fika.

Prof. Fika, wat al jare lank by die NWU betrokke is, verlaat sy pos as adjunk-visekanselier van die NWU se Potchefstroomkampus aan die einde van die jaar.

Hy het ‘n ryk geskiedenis aan dié kampus. Hy het hier studeer, was huisvader van Karlien Dameskoshuis, dekaan van die Teologiese fakulteit, was kampusrektor en mees onlangs adjunk-visekanselier van die Potchefstroomkampus.

Deur al die harte wat hy geraak het, het hy ‘n groot bydrae gelewer tot die NWU met sy vriendelike natuur en deur ‘n glimlag te gee aan almal wat verby hom stap.

Hoewel prof. Fika se termyn as adjunk-visekanselier nou tot ‘n einde kom, sê hy dat dit nie die laaste is wat ons van hom gaan sien nie.

Prof. Fika sê dat hy nie die NWU gaan verlaat nie en dat sy hart en siel altyd hier gaan bly. Na afloop van sy huidige posisie het hy beplan om terug te keer na die navorsingsboeke, maar sy planne is vir eers kortgeknip aangesien die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi hom gevra het om eers in die visekanselier se kantoor aan te bly.

Prof. Fika beskryf sy uittrede uit sy pos as ‘n aflosresies. Hy sê hy is tans besig om aflos te hardloop saam met prof. Daryl Balia, die nuwe adjunk-visekanselier van die Potchefstroomkampus, en dat hy prof. Balia help voorberei vir sy toekoms in dié pos.

VIDEO: Prof. Fika bedank gemeenskap

Prof. Fika se herinneringe en goeie oomblikke het die dag begin toe hy sy eerste tree op die kampus geneem het. Met sy nuwe bydrae tot die universiteit gaan daar nog vele nuwe goeie herinneringe wees.

Een van sy beste herinneringe was in sy eerstejaar as student toe hy sy vrou ontmoet het. Drie kinders en drie kleinkinders later, is hulle vandag steeds gelukkig getroud.

Prof. Fika leef sy lewe saam met die NWU. Hy het soveel goeie oomblikke dat dit nie alles in een sin kan pas nie. Die goeie tye in die koshuis, die geluk toe hy sy graad ontvang het, die eerste oomblik toe hy voor ‘n klas studente gestaan het en kon sien hoe sy boodskap na hulle deurdring, is maar net ‘n paar goeie herinneringe wat hom altyd na aan die hart sal lê.

Hy noem ook dat een van die dinge by die NWU wat hy baie kosbaar vind is die verbintenis wat almal op die Potchefstroomkampus met mekaar het.

Prof. Fika sê hy stem saam met prof. Balia wat op godsdienstige diversiteit by die NWU wil fokus. Hy sê daar is ruimte by die NWU vir diversiteit om te groei. Geen geloof moet deur ‘n ander oorheers word nie en dat almal ‘n plek het vir dit wat hulle glo.

Hoewel die meerderheid van studente en personeel op die NWU se Potchefstroomkampus Christene is, is daar ander gelowe wat met reg beoefen word.

“Almal het die reg tot hul eie geloof en die verskillende gelowe het dikwels oorvleuelende oortuigings en waardes waarvolgens die universiteit leef,” sê prof. Fika. “Dit sluit in integriteit, eerlikheid, lojaliteit, omgee, vrede en soveel meer.”

Hy beskryf ook die universiteit as ‘n boom wat met sterk wortels in die grond geanker staan. Hy, die studente, dosente en enige ander persoon wat ‘n bydrae tot die universiteit gelewer het, vorm deel van hierdie boom en help die universiteit om verder te groei en te floreer.

Hy het by baie geleenthede na die NWU verwys as “ons plek”, wat die groot hoeveelheid liefde toon wat hy vir die NWU het.

Prof. Fika noem dat hy, hoewel hy steeds by die NWU gaan aanbly, steeds die kontak wat hy daagliks met die studente en dosente van die kampus gehad het, gaan mis.

“Hoewel ek aanbeweeg gaan ek die NWU nie verlaat nie. Ek gaan so lank as wat ek kan nog betrokke bly, want dit is ons plek,” sê hy.

Stuur jou persoonlike groeteboodskap aan prof. Fika na manjafika@nwu.ac.za. Maak seker dat jou naam, van, selnommer en e-pos adres onderaan jou boodskap verskyn. Boodskappe kan nog tot einde November gestuur word. 

Exit mobile version