Borskanker – laat jouself ondersoek voor dit te laat is

Borskanker is een van die meer algemene kankers in vandag se tyd en daarom is dit belangrik dat mense so vroeg as moontlik hulself moet laat ondersoek.

Oktober was borskanker-bewustheidsmaand en die groep passievolle mammografiste Laubscher en Vennote by Mediclinic het besluit om borskankermaand vir al hul pasiënte spesiaal te maak.

“Ons het besluit om ’n boom te maak uit takke wat ons gekry het. Ons het dit wit geverf en blommetjies en blare aan die boom gehang waarop ons pasiënte boodskappies kon skryf,” sê Trudy van Wyk, wat by die borskanker-afdeling werk.

Sy sê dat die idee van die boom is vir mense om bemoedigende boodskappe te skryf sodat ander borskanker-pasiënte ’n positiewe boodskap kan kry wanneer hulle vir ’n mammogram gaan.

“Ons wil ook hê pasiënte moet bewus raak van mammografie sodat hulle indien hulle vermoed hulle het borskanker, daarna kan kom kyk,” sê sy.

Borskanker kan reeds in ’n baie vroeë stadium deur ’n mammogram opgetel word en hoe vroeër dit opgetel word, hoe beter is die kanse vir volkome genesing.

Mans kan ook borskanker kry en Van Wyk sê dat hulle mans ook wil aanmoedig om hulself te laat ondersoek.

“Ons het vanjaar reeds vier mans gehad wat vir mammogramme gekom het,” sê Van Wyk. Die personeel wat die mammogramme doen het ’n kursus daarin voltooi en is opgelei om die kleinste teken van borskanker met die mammogram-masjien te kan optel.

Borskanker is een van die meer algemene kankers in vandag se tyd en daarom is dit belangrik dat mense so vroeg as moontlik hulself moet laat ondersoek.

Exit mobile version