“Oorlog kan enige tyd uitbreek” sê Taxi-eienaars

“Die situasie is op ‘n mespunt. Oorlog kan enige tyd uitbreek.”

“Die situasie is op ‘n mespunt. Oorlog kan enige tyd uitbreek.”
So sê Trevor Johnson, taxi-eienaar en voormalige voorsitter van die Interstate Taxi-vereniging oor die toename in sogenaamde “rooftaxi’s” wat in die stad handel dryf.
“Rooftaxi’s” is dié wat sonder bedryfslisensies handel dryf.

Een van die “rooftaxi’s” waarop beslag gelê is. Foto’s: Verskaf

Volgens Johnson en Marks Menzi, ook ‘n taxi-eienaar, kan dié taxi’s die helfte van die prys vra as gelisensieerde taxi’s, omdat hulle nie naastenby dieselfde uitgawes het nie.
Volgens Menzi is hulle besigheid in die hande van wetstoepassers wat blykbaar niks doen omtrent die situasie nie.
“Hoe moet ons dan maak? Ons verloor geld, ek het ook ‘n familie om voor te sorg. Die mense vat die kos uit my kinders se monde,” sê Johnson.
“Dit is ook ’n kwessie van veiligheid. Ons word deur die onderskeie verenigings en die wet gedwing om ons taxi’s behoorlik in stand te hou. Dié ouens doen dit nie, so die taxi’s is gevaarlik vir mense om te gebruik,” sê Menzi.
Volgens Zwelibanzi May, voorsitter van een van die taxiverenigings, het hulle al sedert Maart vanjaar met die munisipaliteit en selfs die burgemeester vergader.
“Ons kry net beloftes, maar niks word aan die situasie gedoen nie,” het May gesê.
Volgens hom is daar sowat 150 “rooftaxi’s” wat in Potchefstroom en Ventersdorp handel dryf.
Volgens Johnson en Menzi sukkel die taxibedryf al heelwat langer met dié probleem. Albei het al so vroeg as 2016 regshulp ingewin om wetstoepassers te probeer dwing om hulle te beskerm.
’n Lys van ongeveer 70 “rooftaxi’s”, asook waar dié taxi’s handel dryf, is aan die verkeersdepartement oorhandig.
“Hulle het nog niks gedoen nie. Volgens wet kan hulle beslag lê op hierdie taxi’s, maar hulle doen dit nie.
“Dit lyk of daar wetstoepassers of politici is wat van hierdie taxi’s besit,” het Menzi gesê.
Volgens Willie Maphosa, wopordvoerder, is die polisiëring van onwettige taxi’s nie uitsluitlik die mandaat van die munisipaliteit nie. Volgens hom het die munisipaliteit niks te doen met die uitreiking van bedryfslisensies nie. Dié funksie lê by die provinsiale vervoerraad wat, volgens Maphosa, ongeveer 15 jaar gelede al van vervoerinspekteurs ontslae geraak het.

 

Een van die “rooftaxi’s” waarop beslag gelê is. Foto’s: Verskaf

“Dié inspekteurs het slegs vervoer-aangeleenthede hanteer. Hulle het alle voertuie wat met openbare vervoer te doen het voorgekeer en inspeksie gedoen. Hulle het gekyk dat bedryfslisensies, openbare bestuurspermitte en al daardie dokumente in plek is,” het hy gesê.
Volgens hom is die plaaslike verkeersdepartement se hulpbronne en mannekrag baie beperk.
“Ons kan nie alomteenwoordig wees nie. Ons probeer sover as moontlik om onwettige taxi’s voor te keer en beslag daarop te lê. Ons kort ’n volledige openbare vervoereenheid om die probleem aan te spreek. Dit is iets wat baie duur is,” verduidelik hy.

Volgens hom het die munisipaliteit al vantevore met taxi-eienaars vergader oor die kwessie.

“Hulle gee vir ons ’n lysie, dan vra ons hulle om beëdigde verklarings af te lê en dan in die hof te getuig, maar baie van hulle wil dit nie doen nie.
“Dit maak dit dan moeilik om onwettige taxi-eienaars aan te kla,” het hy gesê.
Volgens Maphosa word daar van tyd tot tyd padblokkades gehou waar daar na taxi’s se padwaardigheid en bedryfslisensies gekyk word.

 

Illegal taxis cause headache for operators’ committee

Taxigeweld vat vlam in Potchfestroom

 

https://www.nbcarsales.co.za/

 

Exit mobile version