Maboneng Township Arts Experience in Ikageng die Aardklop

“Dit is vir ons belangrik om die gemeenskap op te bou en dit ’n plek te maak waarop die inwoners trots kan wees. Ons ontwikkel die kultuur en lig ’n ander aspek van die township se geskiedenis uit,” sê Ngwenya.

Dit is vir Aardklop heerlik om ‘n nuwe toevoeging tot die program, Maboneng Township Arts Experience in Ikageng, bekend te stel.
Kuns is iets wat gewoonlik ontstaan in kunstenaars se privaat spasies, iets wat deel vorm van hulle daaglikse lewens en iets wat hulle stories vertel. Aardklop is baie opgewonde om aan kunsliefhebbers die geleentheid te gee om eerstehands die spasies waarbinne kuns leef, te ervaar.
Siphiwe Ngwenya, stigtersdirekteur van Maboneng Township Arts Experience en sy bekwame span reël daarom kunstoere vir feesgangers vanaf die feesterrein tot in Ikageng om plaaslike huise, wat in kunsgalerye omskep is, te besoek. Tydens so ’n toer kry feesgangers ‘n unieke geleentheid om die huiseienaars en kunstenaars te ontmoet. Hierdie inisiatief is reeds in Alexandra, Johannesburg, en Langa in die Kaap gevestig, maar vanjaar gaan plaaslike kunstenaars in Ikageng ook die blootstelling geniet.
“Dit is vir ons belangrik om die gemeenskap op te bou en dit ’n plek te maak waarop die inwoners trots kan wees. Ons ontwikkel die kultuur en lig ’n ander aspek van die township se geskiedenis uit,” sê Ngwenya.

Feesgangers op die vorige toere na Ikageng.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, noem dat hierdie projek vir Aardklop belangrik is omdat dit ‘n rykdom van verskillende kulture by die fees betrek. Strachan sê verder visuele kuns transendeer ook tradisionele taalgrense en is dus ideaal om mense vanuit verskillende agtergronde bymekaar te bring.
“Ons poog immers om deur middel van ons program te verryk, te vermaak, te verras en te versoen. Ek sien verskriklik uit na hierdie nuwe toevoeging tot ons program,” sê sy.
* Die datums en tye vir hierdie produksie is 4 tot 6 Oktober om 11:00 en 14:00. Die tydsduur is 60 minute en kaartjies kos R150.

Exit mobile version