EntertainmentNewsNews

Aardklop, ATKV en Artéma in samewerking vir verhoog-bestuurskursus

Ervare kundiges stel hulle bedryfskennis vir die werkswinkel en kursus beskikbaar.

Na die reuse sukses van Aardklop se produksiebestuurs-werkswinkel in 2017 is daar besluit om die aanbod in 2018 uit te brei. Daar word vanjaar ook ’n verhoogbestuurskursus voor die fees aangebied.
Kuns-entoesiaste en opkomende teatermakers kan nou die praktiese aspekte van die bedryf eerstehands by ervare kenners leer.
“Hierdie is een van Aardklop se projekte waarop ek die trotsste is! Na my wete is Aardklop die enigste Nasionale Kunstefees wat kursusse en werkswinkels van die aard aanbied. Jaarliks raak die tekort aan kundige personeel meer. Wat baat dit die kunstenaars se werk is van hoogstaande gehalte, maar ons het nie genoeg mense agter die skerms wat die produksie ondersteun nie? Saam met die ATKV en Artéma poog ons om hierdie tekort aan te spreek, ” sê Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder.
Chris de Bruyn, kunste- en ontwikkelingsbestuurder van Artéma, verduidelik dat kandidate by die produksiebestuurs-werkswinkel die verskillende fasette van ‘n produksie gaan leer verstaan. Die werkswinkel strek oor vier dae vanaf 2 tot 5 Oktober. Deelnemers kan vir die volle duur aansluit, of vir slegs enkele dae. Nuwe temas sal daagliks behandel word, onder meer produksiebestuur in Suid-Afrika, hoe om met ʼn begroting te handel, toepaslike regsaspekte en hoe om kunstenaars en bemarking te benader.
Die verhoogbestuurskursus fokus meer op die dinge wat op die verhoog gebeur, soos effektiewe beligting, dekor en klank. Kortliks behels dit die vergestalting van die regisseur se visie op die planke. ’n Kortkursus sertifikaat in verhoogbestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) sal na suksesvolle afhandeling van die kursus aan deelnemers toegeken word. Die kursus strek oor twee dae, naamlik 28 en 29 September.
Ervare kundiges stel hulle bedryfskennis vir die werkswinkel en kursus beskikbaar. Ismail Mahomed (die uitvoerende hoof van Markteater-Stigting), Saartjie Botha (US Woordfees feesbestuurder), Hugo Theart (waarnemende uitvoerende hoof: Kunste Onbeperk) en Alexa Strachan, (Aardklop feesbestuurder) sal by die produksiebestuurs-werkswinkel hulle waardevolle vakkennis deel. Christiaan Ballot van Blonde Produksies en Chris de Bruyn van Artéma sal beslis die verhoogbestuurskursus die moeite werd maak.
De Bruyn sê: ”Baie van die praktiese aspekte in hierdie bedryf kan net deur ondervinding aangeleer word, daarom is dit so waardevol om by mense te leer wat self al jare in die industrie werk.
Wanneer iemand by dié werkswinkel of kursus uitstap sal hulle beslis meer waarde kan toevoeg tot ’n produksie as tevore.”
Daar is net plek vir twintig mense per sessie, wat die ervaring baie persoonlik maak.
Vir meer inligting hieroor skakel Chris de Bruyn by chris.debruyn@nwu.ac.za of 082 855 7962 om jou plek te bespreek.
Kom leer by die mense wat weet!

Related Articles

Back to top button