NewsNews

Puk-student verloor haar stryd teen kanker

Hartseer nuus het Sondagoggend (2 September) soos ’n veldbrand oor Facebook versprei toe die jong Puk-student wat vir maande teen kanker geveg het, die stryd finaal verloor het.

Hartseer nuus het Sondagoggend (2 September) soos ’n veldbrand oor Facebook versprei toe die jong Puk-student wat vir maande teen kanker geveg het, die stryd finaal verloor het.

Jeané Myburgh, ’n derdejaar student aan die NWU se Potchefstroomkampus, is Sondagoggend om 07:00 oorlede. Jeané was ’n inwoner van Kasteel Dameskoshuis en sou vanjaar haar finale jaar in B.Com. Bedryfsielkunde voltooi. In plaas daarvan om in Januarie terug te keer Potchefstroom toe, is sy gediagnoseer met PNET Ewing sarkoom, ’n baie aggressiewe kanker en moes sy in Durban, waar haar familie woon, agterbly.

Jeané en haar ma Elymi Myburgh. Foto: Facebook
Jeané en haar ma Elymi Myburgh. Foto: Facebook

In die eerste ses maande na haar diagnose moes sy deur 16 chemoterapie-sessies, twee PET-skanderings en talle weeklikse bloedtoetse gaan. Sy moes ook verskeie operasies ondergaan maar die gewas in haar maag het net groter geword en die kanker het net verder versprei en stadig maar seker haar liggaam oorgeneem.

Jeané het tot die einde toe hard teen die kanker geveg en positief gebly dat sy volgende jaar sal terugkeer Potchefstroom toe om haar studies te voltooi. “Ek is sterker.. ek is brawer en my God is groter as my kanker,” het sy op 16 Junie in ’n boodskap aan ’n vriendin gesê.

Jeané Myburgh saam met haar pa, Jan Myburgh. Foto: Facebook
Jeané Myburgh saam met haar pa, Jan Myburgh. Foto: Facebook

Ongelukkig kon daar niks meer vir haar gedoen word nie en haar laaste uitweg was ’n wonderwerk. Hoewel Jeané nie haar stryd teen kanker kon oorwin nie, het sy wel baie mense se lewens aangeraak met die #BlueForYou inisiatief waar sy moed vir baie kankerlyers gegee het deur positief te bly en nooit op te hou veg nie. Jeané se pa, Jan Myburgh, het op Facebook gesê dat haar laaste aand baie erg was en dat die kanker die lewe uit haar uit gestoei het.

“Toe ons vandag die hospitaalkamer verlaat, het ons ’n handjievol besittings saam met ons geneem, maar ons mees kosbare besitting moes ons agterlaat,” het hy Sondag gesê. “Sy is nie alleen nie. Sy sal onthou word en haar energie en gees sal met ons almal wees solank as wat ons leef.”

‘n Troosdiens word op 8 September om 11:00 vanuit die NG Kerk Krantzkloof in Kloof, Durban gehou. Vriende en familie is welkom om dit by te woon.

Jeané Myburgh het tot die einde toe geveg. Foto: Facebook
Jeané Myburgh het tot die einde toe geveg. Foto: Facebook

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button