Wees steeds op die uitkyk vir die ‘bloulig-boewe’

“Indien motoriste ’n wit Polo met ’n blou lig langs die N12 sien, moet hulle die registrasienommer neerskryf en die polisie by (018) 299 7477 skakel,” sê Chaka.

Die polisie is steeds op soek na misdadigers wat hul as verkeers- of polisiebeamptes voordoen en motoriste op die N12 naby Potchefstroom kaap.

Vier voorvalle binne ’n maand het plaasgevind waar motoriste deur sowat vier mans met ’n ongemerkte wit Volkswagen Polo met ’n blou lig voorgekeer is.

By al die voorvalle is dieselfde modus operandi gevolg. Twee tot vier mans, geklee in of polisie-uniforms of verkeersbeampte-uniforms, is betrokke.

Hulle keer motoriste op die N12 tussen Klerksdorp en Potchefstroom, sowel as tussen Potchefstroom en Johannesburg voor, waarna die slagoffers met ’n vuurwapen gedreig en dan gekaap word.

In twee van die voorvalle is slagoffers se hande met skoenveters vasgebind en is hulle in die Polo se kattebak gelaai. Hulle is daarna in onder meer Soweto, Lenasia en Randfontein afgelaai.

‘Bloulig-boewe’ buite beheer op N12

Polisiewoordvoerder, kapt. Mvula Chaka, sê motoriste moet veral deur die dag op die uitkyk wees vir enige verdagte Polo-voertuie langs die N12. Die kapings het tot dusver net in die middag plaasgevind.

Chaka sê hulle inligting is dat die blou lig glo nie bo-op die dak van die Polo gehou word nie, maar binne die voertuig op die paneelbord. Hy sê die polisie patrolleer verskeie punte op die N12.

Daar het intussen nog nie weer ’n soortgelyke kaping plaasgevind nie.

Chaka sê indien mense onseker is of die beamptes wat hulle voorkeer werklik wetstoepassers is, moet hulle eerder na byvoorbeeld die naaste polisiestasie, ’n vulstasie of ’n ander openbare plek ry waar daar baie mense is.

“Indien motoriste ’n wit Polo met ’n blou lig langs die N12 sien, moet hulle die registrasienommer neerskryf en die polisie by (018) 299 7477 skakel,” sê Chaka.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version