NewsNews

Welvaartkongres gesels met fondsbestuurder by PSG Batebestuur

In hierdie omgewing is dit belangrik om beleggingsgeleenthede te soek wat positiewe asimmetrie of ongelykheid inhou

Baie beleggers ervaar nou al ’n geruime tyd ’n afwesigheid van opbrengste wat inflasie klop en dit is verstaanbaar dat dit kommer veroorsaak. Daarom het ons hierdie week met Shaun le Roux, fondsbestuurder by PSG Batebestuur, gaan gesels om meer inligting te kry.
Volgens Shaun is beleggersvertroue wêreldwyd geskud deur (onder andere) die risiko’s wat wankelende handelsonderhandelinge dra en die onseker impak van voortgesette monetêre beleidsverskerping in die Verenigde State. Plaaslik bly beleggers onrustig oor die ANC se grondonteieningsbeleid en die haglike posisie van nasionale, munisipale en staatsondernemings se tesourie-afdelings.
Le Roux maak die volgende aanbevelings in hierdie omstandighede:
In hierdie omgewing is dit belangrik om beleggingsgeleenthede te soek wat positiewe asimmetrie of ongelykheid inhou: Gesonde styg-potensiaal met beperkte daal-potensiaal. Om dít te kan doen is dit belangrik om te identifiseer watter verwagtings in die prys van ’n aandeel of sekuriteit ingebou is. Hy gaan voort: Wanneer verwagtings baie laag is is die daal-potensiaal beperk, selfs al verswak die vooruitsigte. Opbrengste sal egter aanvaarbaar wees indien toestande dieselfde bly en uitstekend indien toestande verbeter – wat positiewe asimmetrie skep.
Volgens Le Roux kan die omgekeerde scenario ook voorkom. Omgekeerd wanneer verwagtings hoog is en waardasies oordrewe word die beleggingsuitkoms op ’n ongunstige wyse verwring. Indien verwagtings nie verwesenlik word nie, beteken negatiewe asimmetrie dat die daal-potensiaal van ‘n bate beduidend kan wees.
Die potensiaal vir positiewe asimmetrie is dus teenwoordig wanneer sentiment swak en vertroue op lae vlakke is. Insgelyks is negatiewe asimmetrie ’n waarskynlikheid wanneer vertroue op hoë vlakke is. Dit beteken dat ongewilde dele van die mark wat min aftrek kry die grootste vooruitsigte bied vir bates wat te laag geprys word – as mens oordeelkundig kies.
Shaun sê ook dat waar ons ook al potensiële geleenthede opspoor, moet ons beleggings aan drie sogenaamde M-kriteria voldoen – Moat (’n sterk mededingende voordeel), Management (uitstekende bestuur) en Margin of Safety (’n goeie veiligheidsmarge – m.a.w. die belegging verhandel benede sy billike waarde).
“Tans bied plaaslike aandele wat minder gewild is aantreklike geleenthede, veral in die medium- en kleinkapitalisasie-kategorieë. Dieselfde kan gesê word van minder gewilde dele van internasionale markte (soos verskeping en Japanse finansiële aandele) waar ons goeie waarde identifiseer,” het Le Roux gesê.
Kom luister gerus na nóg waardevolle beleggingsraad deur verskeie fondsbestuurders by die komende Welvaartkongres op 13 September by The Roots.
Ingang is gratis, maar bespreking is noodsaaklik. Skakel gerus vir Susan Fouché by 082 048 6309 of potch@jenwil.co.za vir meer inligting of besprekings voor 10 September.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button