NewsNews

Twee vas na man gekaap en ontvoer is

Twee mans is Vrydagoggend (17 Mei) omstreeks 09:30 in Mooilaan in hegtenis geneem nadat hulle ’n voertuig gekaap en die bestuurder ontvoer het.

Twee mans is Vrydagoggend (17 Mei) omstreeks 09:30 in Mooilaan in hegtenis geneem nadat hulle ’n voertuig gekaap en die bestuurder ontvoer het.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die bestuurder van ‘n Hilux bakkie Donderdagaand besluit om in die voertuig te slaap.
“Die bestuurder werk vir ‘n koerierdiens en was klaar met sy aflewerings in Potchefstroom,” het Manyoba gesê.
Hy het vroeg die volgende oggend wakker geword toe vier mans probeer het om by die bakkie in te breek.
Volgens Manyoba het die vier mans die slagoffer uit die bakkie forseer en binne hulle wit voertuig se kattebak gedwing.
“Hulle het iets oor sy kop gesit en hom met sy skoenveters vasgemaak,” vertel Manyoba. Na ‘n paar uur het die slagoffer ’n harde stampgeluid gevoel, waarna hy ‘n oor en weer geskree gehoor het. Die volgende oomblik is hy deur polisie uit die kattebak van die voertuig bevry.
Volgens Manyoba het die polisie daarin geslaag om twee van die vier mans in hegtenis te neem.
“Die polisie is nog op soek na die ander twee verdagtes,” het sy gesê. Volgens haar word die moontlikheid ondersoek dat dié verdagtes moontlik by die vlaag kapings op die N12 betrokke kan wees.
Die Herald het die afgelope tyd berig oor ’n groep wat hulself as polisie- of verkeersbeamptes voorgedoen het om motoriste te kaap. Daar is in minder as ‘n maand vier voorvalle van kaping, waar dieselfde modus operandi gevolg is, by die polisie aangemeld.
Al vier slagoffers is met skoenveters vasgebind, in ’n kattebak gelaai en buite die stad afgelaai. Volgens Manyoba moet motoriste op hul hoede wees. Indien mense onseker is of die beamptes wat hulle voorkeer werklik wetstoepassers is, moet hulle eerder na die naaste polisiestasie, ’n vulstasie of ’n ander openbare plek ry waar daar baie mense is. “Mense het die reg as hulle afgetrek word om vir die polisie te vra vir hulle aanstellingskaartjies.
Beamptes se voertuie sal ook altyd gemerk wees. Elke polisiebeampte moet ten alle tye sy of haar aanstellingskaart kan toon,” het Manyoba gesê.

Related Articles

Back to top button