Vrou lewe in vrees nadat polisie haar glo ontvoer

’n Erg getraumatiseer vrou sê sy is Donderdag 2 Augustus deur twee polisievroue ontvoer nadat personeel by ’n selfoonwinkel vermoed het haar ID-dokument en bestuurderslisensie is vervals.

’n Erg getraumatiseer vrou sê sy is Donderdag 2 Augustus deur twee polisievroue ontvoer nadat personeel by ’n selfoonwinkel vermoed het haar ID-dokument en bestuurderslisensie is vervals.
Sy sê sy het later op versoek van die twee polisievroue ‘n bedrag van R500 betaal sodat hulle haar kan laat gaan. Sy is toe weer naby die selfoonwinkel afgelaai.
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het later ’n klag by die polisie gaan lê. ’n Klag van korrupsie word nou deur die Onafhanklike Polisie Ondersoek-direktoraat ondersoek.
Sy sê haar nagmerrie het begin toe sy na die Vodacom Shop naby Checkers in die Mooirivier Mall is om haar kontrak te hernu. Een lid van die personeel het egter nie haar ID-dokument of bestuurderslisensie aanvaar nie en beweer dat dit vervals is.
Die persoon het glo met sy bestuurder gaan praat en daarna vir haar gesê die bestuurder het die polisie en die sentrum se sekuriteit ontbied.
Sy meen hulle het geen reg gehad om so ’n aantyging te maak nie en dat net Binnelandse Sake dit kan doen. Sy het geweier om saam met die sekuriteitsbeamptes uit die winkel te gaan en het gesê sy sal vir die polisie wag.
Sy het sowat 45 minute in die winkel vir die polisie gewag om op te daag.
“Toe die polisie daar aankom het hulle, vier sekuriteitswagte, die bestuurder sowel as die verkoopspersoon om my gestaan en my beskuldig van bedrog,” sê sy.
Die twee polisievroue het toe haar beursie, sowel as haar ID-dokument en haar bestuurderslisensie geneem en gesê sy moet saam met hulle kom om haar dokumente by Binnelandse Sake te laat verifieer.
“Hulle laai my toe reg voor die Mall agter in die polisiebakkie. Ek was onder die indruk hulle neem my Binnelandse Sake toe,” sê sy.

Die polisievroue het haar egter na ’n stuk veld geneem en gesê hulle wil met haar praat. Sy het egter daarop aangedring dat hulle haar of polisiestasie of Binnelandse Sake toe moet neem. Sy is toe weer agter in die bakkie gelaai.

“Ek kon deur die klein venstertjie sien dat ons nie Binnelandse Sake toe gaan nie, aangesien ons verby my huis gery het, waar hulle weer in ’n stuk veld naby my huis gestop het,” sê sy.
Hulle het haar toe weer uit die bakkie laat klim en gevra of sy werklik Binnelandse Sake toe wil gaan.
“Ek het so gebewe, ek het nie meer geweet wat om te doen nie. Ek vra toe vir hulle wat hulle wil hê, want hulle wil my nie Binnelandse Sake toe neem nie en ek wil my dokumente terugkry,” sê sy.
Die vroue het vir haar gesê hulle wil R500 hê. Sy het gesê dit is reg, maar sy sal geld moet trek. Hulle het haar voor in die bakkie gelaai en sy het tussen hulle gesit tot by die kitsbank by West Acres waar sy geld getrek het.
Nadat sy die geld vir hulle gegee het, het hulle haar dokumente vir haar teruggegee, haar weer voor in die bakkie gelaai en na Mooirivier Mall teruggeneem.

Hulle wou ook eers haar selfoonnommer hê voordat sy uit die bakkie kon klim. “Hulle wou nie hulle name vir my gee nie,” sê sy.

Sy sê sy is erg getraumatiseer en bang, aangesien hulle weet waar sy woon.
Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die saak oorgeplaas is na die Onafhanklike Polisie Ondersoek-direktoraat.
Vodacom Shop se bestuurder het die voorval bevestig, maar gesê dat hy nie kommentaar mag lewer nie. Die Herald het na die navraag nog geen kommentaar van Vodacom se hoofkantoor gekry nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version