NewsNews

Veldbrand verwoes weiding: Boere bestry deurnag

Behalwe vir die duisende hektaar weiding wat verwoes is, het ‘n stoor afgebrand en verskeie diere het brandwonde opgedoen.

’n Vernietigende veldbrand het Maandag (6 Augustus) sowat 8 000 ha se weiding in die Rysmierbult omgewing verwoes.
Volgens dr. Kobus Roux, voorsitter van die Brandbeskermingsvereniging, het die brand in die Ventersdorp omgewing ontstaan weens Eskom kraglyne wat tydens ‘n sterk wind aan mekaar geraak het.
“Rukwinde van tot 60km per uur het die vuur in ’n oostelike rigting aangedryf,” sê hy.
Hy sê ongeveer 100 boere van die omgewing was met brandbestrydings-toerusting op die toneel, maar kon nie die brand onder beheer kry nie.

Winde van tot 60km/u het vlamme vinnig oor die plase versprei. Foto: Kobus Roux

“Boere met bakkie-eenhede, omboude buffel-eenhede vir brandbestryding en trekkers met waterkarre was die hele tyd op die toneel om die vuur te veg,” sê Roux. Die polisie se perde-akademie, Working on Fire en die JB Marks Munisipaliteit is ingeroep om te kom help, maar niemand kon die verwoestende vlamme keer nie. “Die vuur het oor verskeie teer- en grondpaaie gespring, asook voorbrande van tot 40 meter breed. Tot dusver word geskat dat bykans 8 000 ha weiding verlore gegaan het. Die brandlyn was net oor die 18 km lank,” sê Roux.

“Boere het deur die nag gewerk om die vuur onder beheer te kry, maar teen vanoggend 05:00 moes die aflosspanne van Working on Fire weer vlamme kom blus.

“Behalwe vir die duisende hektaar weiding wat verwoes is, het ‘n stoor afgebrand en verskeie diere het brandwonde opgedoen. ’n Perd moes uitgesit word weens die graad van die brandwonde wat dit opgedoen het.
Boere was Dinsdagmiddag steeds op die toneel om die situasie in die sterk wind dop te hou.
“Namens die Potchefstroom en Noordwes sambreel Brandbeskermingsvereniging doen ons ’n beroep op mense om asseblief uiters waaksaam te wees as dit kom by oop vure.
Tans is daar ’n totale brandverbod in die hele provinsie uitgereik. Dit sluit ook die brand van vullishope in,” sê Roux.

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button