NewsNews

‘Bloulig-boewe’ kaap vir die derde keer op N12

Die sogenaamde ‘bloulig-boewe’ wat hul as verkeers- of polisiebeamptes voordoen en onskuldige motoriste op die N12-hoofweg viktimiseer en kaap, het weer toegeslaan.

Die sogenaamde ‘bloulig-boewe’ wat hul as verkeers- of polisiebeamptes voordoen en onskuldige motoriste op die N12-hoofweg viktimiseer en kaap, het weer toegeslaan.

Die jongste voorval was op Vrydag 27 Julie omstreeks 14:30, toe ’n motoris net buite Potchefstroom langs die N12 deur twee mans, ook met ’n wit Polo met ’n blou lig op die dak, voorgekeer is.

Hulle het ’n vuurwapen op hom gerig, hom aangesê om uit die voertuig te klim en sy hande is met ’n skoenveter vasgebind.

Daarna het hulle hom in die Polo se kattebak gelaai en hom by ’n myn naby Burgersdal in Randfontein afgelaai. Dit is die derde keer in drie weke dat iemand langs dié hoofweg gekaap word deur sowat twee tot vier mans met uniforms van polisie- of verkeersbeamptes.

Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Mvula Chaka, is die modus operandi in al drie die voorvalle byna dieselfde.
Al drie slagoffers sê hulle is in die middag langs die N12-hoofweg deur mans met ’n wit Volkswagen Polo met ’n blou lig op die dak voorgekeer.

Die eerste slagoffer is op 6 Julie omstreeks 12:00 langs dieselfde hoofweg naby Ikageng voorgekeer.
Hy het vir die polisie gesê die mans wat hom voorgekeer het, het uniforms aangehad wat lyk soos dié van verkeersbeamptes. Nadat hy voorgekeer en na sy lisensie begin soek het, het een van die mans in sy motor geklim en ’n vuurwapen op hom gerig.

Die mans het saam met hom in sy motor geklim en met hom na ’n onbekende plek gery waar hulle hom afgelaai het.
Op 18 Julie, ook omstreeks 12:00, was daar ’n soortgelyke voorval.

Mnr. Mathews Ramadwa is in ’n maatskappyvoertuig naby die weegbrug op die N12-hoofweg ook deur mans met ’n wit Polo met ’n blou lig op die dak voorgekeer.

Hy sê die mans het blou polisie-uniforms aangehad. Een van die mans het ook ’n vuurwapen op hom gerig, waarna hulle ’n sak oor sy kop getrek, sy hande met skoenveters vasgebind en hom in die kattebak van hul Polo gelaai het.
Hulle het met hom tot in Soweto gery, waar hulle hom eers vir vier ure in die kattebak gehou het voordat hulle hom daar gelos en weggery het.

Kapt. Chaka sê die polisie is op die uitkyk vir dié wit Polo. Hy sê motoriste moet op hul hoede wees.
“Indien motoriste onseker is of die beamptes wat hulle voorkeer werklik wetstoepassers is, moet hulle eerder na byvoorbeeld die naaste polisiestasie, vulstasie of ander openbare plek ry waar daar baie mense is.

Indien iemand ’n wit Polo met ’n blou lig langs die N12 sien, moet hulle die registrasienommer neerskryf en die polisie by (018) 299 7477 skakel,” sê hy.

Related Articles

Back to top button