CommunityNewsNewsPhoto GalleriesVacancies

Vyf beste studierigtings in Suid-Afrika

Beginsalarisse, hoe lank dit kandidate geneem het om werk te kry nadat ’n kwalifikasie verwerf is, en die skaal waarteen kandidate se salarisse in die afgelope 30 maande gegroei het, is in ag geneem.

’n Onlangse navorsingsverslag toon dat studente in die IT-bedryf se salarisse die vinnigste groei, dat al hoe meer studente in die ambagte en beroepsopleiding kwalifiseer en dat studente met ’n BCom Finansiële en Bestuursrekeningkunde graad die maklikste werk kry.

Dit is van die bevindings wat in ’n onlangse navorsingstudie deur Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum gemaak is, waaraan ongeveer 300 jong werkendes regoor SA wat tussen 2015 en 2018 afgestudeer het, deelgeneem het. Beginsalarisse, hoe lank dit kandidate geneem het om werk te kry nadat ’n kwalifikasie verwerf is, en die skaal waarteen kandidate se salarisse in die afgelope 30 maande gegroei het, is in ag geneem.

Die topvyf studierigtings is:

1. Informatika

Die 3% van studente wat informatika bestudeer het, is die gemaklikste in hulle werkplek en hulle salaris het ook die vinnigste gegroei. Daar is ’n gemiddelde groeikoers van 95% groei oor die afgelope 30 maande van hulle werklewe. Hierdie kandidate het binne gemiddeld twee maande na afstudering werk gekry.

Gemiddelde beginsalaris: R8 333 p.m.

2. Beroepsopleiding

Beroeps- en Ambagsopleiding is deur 23% van die studente as loopbaan gekies. Studente wat deur Sol-Tech studeer het, was die uitskieters met ’n gemiddelde beginsalaris van R22 000 per maand en ’n baie hoë plasingsyfer. Studente in Beroeps- en Ambagsopleiding oor die breë spektrum het binne gemiddeld drie maande na afstudering werk gekry.

Gemiddelde beginsalaris: R7 653 p.m.

3. Finansiële en Bestuursrekeningkunde

14% van die kandidate het ’n kwalifikasie in finansiële en bestuursrekeningkunde behaal. Hierdie studente het gemiddeld binne drie maande na hul kwalifikasie werk gekry.

Gemiddelde beginsalaris: R9 044 p.m.

4. Gesondheidswetenskappe

Ongeveer 10% van die studente het in rigtings in die gesondheidswetenskappe gestudeer. Dit sluit rigtings soos mediese dokters, verpleegpersoneel, terapeute en laboratoriumpersoneel in. Hierdie kandidate het gemiddeld tussen drie en vier maande geneem om hulle eerste werk te kry.

Gemiddelde beginsalaris: R13 125 p.m.

5. Veeartsenykunde

Alhoewel slegs 2% van die studente hierdie studierigting gevolg het, blyk dit ’n baie goeie studierigting te wees, en bykans al die studente in hierdie studierigting het reeds ’n werkaanbod gehad voordat hulle afstudeer het.

Gemiddelde beginsalaris: R19 166 p.m.

Ander belangrike beroepe wat in die navorsing geïdentifiseer is, is Ingenieurswese, en Natuur- en Landbouwetenskappe. Hierdie kandidate het goeie beginsalarisse verdien, maar is nie so gemaklik in die werkplek soos die ander beroepe hierbo nie.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum, is daar ’n direkte verband tussen opleiding en verdienvermoë.

“Waar die werkloosheidskoers vir jongmense 26.7% is, daal hierdie syfers volgens ons navorsing tot slegs 7% wanneer iemand ’n tersiêre kwalifikasie verwerf het.”

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum bied reeds sedert 2008 finansiële studiehulp aan behoeftige studente en het oor die afgelope tien jaar R156 miljoen bestee om 4 230 behoeftige studente se studies aan tersiêre instansies regoor SA moontlik te maak.

Related Articles

 
Back to top button