NewsNews

Paartjie vertel van nagmerrie ervaring tydens roof

“Hulle het in ’n stadium ’n kussing oor my kop gedruk en ’n pistool teen die kussing gehou. Ek het gedink hulle gaan my skiet. Mariaan het net weggekyk,” vertel Jurgens.

’n Paartjie wat onlangs in ’n huis in Malvastraat ingetrek het, het Saterdagoggend ’n nagmerrie beleef toe hulle vasgebind, aangerand en met die dood gedreig is terwyl hulle vir sowat vyf ure in hul huis aangehou is.
Mariaan Jordaan en Jurgens Bence het Vrydagaand in hul sitkamer televisie gekyk toe hulle op die bank aan die slaap geraak het. Saterdagoggend omstreeks 01:00 het Jurgens wakker geskrik toe hy Mariaan langs hom hoor gil.
Toe Jurgens opspring, is daar vyf gewapende mans in hul sitkamer wat vuurwapens teen die paartjie se koppe hou. Nog ‘n man sonder ‘n wapen het in die voorportaal gestaan.
“Hulle het op ons begin skree en ons rondgeruk. Toe neem hulle ons kamer toe, bind ons voete en hande met draadhangers agter ons rug vas en gooi ons op ons mae op die grond,” vertel Jurgens.
Die inbrekers het sowat vyf ure geneem om die huis byna heeltemal leeg te dra. Hulle het net nie die swaar meubels gevat nie, maar alle elektroniese toestelle, klere, kos, drank en Jurgens se bakkie is gesteel.
“Hulle het kort-kort op ons kom skree en het vir Jurgens in die ribbes geskop om uit te vind of die bakkie ’n opsporingstoestel het. Hulle wou ook heeltyd weet hoe om my kar aan te sluit, omdat my kar ‘n immobiliseerder het, kon hulle dit nie regkry nie,” vertel Mariaan.

“Hulle het in ’n stadium ’n kussing oor my kop gedruk en ’n pistool teen die kussing gehou. Ek het gedink hulle gaan my skiet. Mariaan het net weggekyk,” vertel Jurgens.

Omstreeks 05:45 het die inbrekers die paartjie aan hul voete tot in die middel van hul kamer gesleep, waarna hulle die dubbelbed opgetel en bo-op hulle neergegooi het. Verder het hulle ’n laaikas en bank ook bo-op die bed gepak en die paartjie binne in die kamer toegesluit.

Die bed wat bo-op Mariaan en Jurgens gegooi is voordat die inbrekers gevlug het. Foto: Marianke Saayman

Toe die inbrekers uit die huis is, het Mariaan haar hande losgekry en Jurgens ook losgemaak. Hulle kon toe die meubels van hulle afkry en het ’n badkamervenster gebreek om uit die huis te kom om hulp by hul bure te gaan vra. Die inbrekers het met Jurgens se bakkie gevlug. Dit is later net buite Fochville gevind.
“Ek het nie die vorige aand diesel ingegooi nie, so hulle kon nie baie ver kom nie,” sê Jurgens. In die bakkie was van die gesteelde komberse, ‘n ketel sowel as drankbottels wat ook uit die paartjie se huis gesteel is.
“Hulle het die bottels sommer in die bakkie leeg gedrink en daarin gelos. Die polisie kon darem DNS op die bottels kry,” sê Mariaan.
Die paartjie het maar twee weke gelede in die huis ingetrek. Sedert die voorval het hulle nog nie weer by die huis geslaap nie. Intussen is daar Dinsdagaand weer by die huis ingebreek en ’n nuwe televisie, wat Jurgens se pa vir hulle gegee het, is gesteel.

“Ons slaap na die voorval glad nie hier nie. Ek kan ook nie meer langer hier bly nie, ons gaan sommer nou weer ander blyplek kry,” sê Mariaan.

Hoewel Mariaan se motor nie gesteel is nie, het die inbrekers met haar motorsleutels gevlug.
“Ek kry nie iemand wat kan help ommy kar net iewers veilig te gaan bêre nie. Ons het ’n plek waar die kar veilig gaan wees, maar kry niemand om die kar daarheen te neem nie. Ons verwag dat die rowers gaan terugkom om my kar ook te steel,” sê Mariaan.
Mariaan sê sy is net dankbaar dat haar twee dogtertjies nie by die huis was toe dit gebeur het nie. Sy en haar dogter, Renae van der Westhuizen (9), waaroor die Herald verlede week berig het, vlieg Vrydag Amerika toe waar Renae aan ’n talentkompetisie gaan deelneem. “Ek is dankbaar dat hulle nie die lêer met ons paspoorte uit my kar gesteel het nie,” sê Mariaan.
Jurgens het later die oggend om die huis geloop en opgemerk dat daar merkers buite hul erf geplaas is.
Enigiemand wat kan help met Mariaan se motor kan haar by 066 250 6784 skakel.

 

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/50426/kyk-dit-hoe-die-huis-malvastraat-gemerk/

Related Articles

 
Back to top button