Saggeaarde jong ma sterf tragies

“Hulle het my vrou gebel met die nuus. Ek wens hulle het my eerder gebel sodat ek dit aan haar kon breek,” sê Charles Schutte, Anischa se pa.

“Ons weet nie hoe ons vir hom gaan sê sy vrou is dood nie.”

So sê Mientjie van Staden, skoonsuster van die jong ma, Anischa Byleveld (28), wat Saterdagaand, 7 Julie omstreeks 21:00 tragies op die N12 net buite Potchefstroom gesterf het.

Volgens Mientjie het Anischa en haar man Heino (28) Saterdag by vriende gaan kuier. Hulle was op pad na Heino se ouers. Hul babaseuntjie Henco (2) was vir die dag by Anischa se ouers.

“Hulle het goeie nuus gehad om vir Heino se ouers te vertel. Anischa sou Maandagoggend vir ’n werksonderhoud gaan,” vertel Mientjie.

Hulle was nie meer ver van Heino se ouers, wat naby die kwekery woon, toe hulle kar sonder brandstof gaan staan het. Anischa en Heino het glo uit hul motor geklim en motoriste probeer stop om hulle te help.

“Anischa was eers op die foon met die vriendin waar hulle vroeër was, om haar te vra om vir hulle brandstof te bring, maar het toe vir die vriendin gesê sy hoef nie meer te kom nie, want dit lyk asof ’n motor gaan stop om hulle te help. Sy het toe die foon doodgedruk,” sê Mientjie.

Mientjie vermoed dat dit die motor is wat Anischa en Heino raakgery het. Anischa het drie meter van Heino af gelê en daar word vermoed dat sy eerste getref is.

Anischa, Heino en Henco Byleveld. Foto: Facebook

Heino het die voorval oorleef, maar is in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Anischa is op die toneel dood verklaar. Sekondes na die ongeluk gebeur het, het ’n verbyganger, Hendriette Vos en haar man, op die toneel gestop.

“Ons het gestop omdat die man uit sy klere uit gery was,” vertel Hendriette. Hendriette het na Heino toe gehardloop en haar man na Anischa.

Hulle het vermoed dat beide reeds dood is aangesien ’n polisieman vir hulle gesê het dat hulle dood is, maar toe beweeg Heino.

“Hy het probeer regop kom, maar ek het hom platgedruk want ek kon sien hy het ’n ernstige kopbesering.
Ek het sy klere weer aan sy lyf probeer kry omdat dit baie koud was,” vertel sy.

“Ek het net vir hom gesê, ‘lê, ons gaan jou help!’”

Hendriette het ’n ambulans gebel, maar toe daar na 10 minute nog niemand na die toneel gekom het nie, het sy en haar man ingery stad toe om hulp te gaan soek.

“Ek kon niks meer vir die mense doen nie,” het Hendriette hartseer gesê. ER24 het kort daarna by die toneel gekom en vir Heino hospitaal toe geneem.

Mientjie verduidelik dat Heino moontlik breinskade mag hê en dat hy later ’n heupvervanging sal moet kry. Hy was tot Woensdag nog in ’n koma en is nog nie meegedeel dat sy vrou gesterf het nie.

“Ons weet nie hoe om vir hom te sê van Anischa nie, ons gaan maar sy aandag op sy seuntjie probeer hou tot hy uit die hospitaal kom,” sê sy.

Anischa se pa Charles Schutte sê dat hy en sy vrou Wanda erg geskok is oor die dood van hul dogter.

“Hulle het my vrou gebel met die nuus. Ek wens hulle het my eerder gebel sodat ek dit aan haar kon breek,” sê Charles.

Charles beskryf sy dogter as ’n saggeaarde jong vrou wat altyd mense in moeilike situasies wou help.
Hy sê dat hy sy broer Dinsdag gestuur het om Anischa se liggaam te identifiseer aangesien hy nie kans gesien het om sy dogter so te sien nie.

Polisiewoordvoerder ao. Mpho Manyoba het bevestig dat die bestuurder van die motor Saterdagaand op klagte van strafbare manslag in hegtenis geneem is.

Anischa se begrafnisdiens vind Vrydag 13 Julie om 14:00 by die PPK Kerk in Maherrystraat plaas.

Exit mobile version