NewsNews

Vrou (63) met dood gedreig in Gembokstraat

“Hy het sy hande so in my gesig gedruk dat ek gesukkel het om asem te haal. Bly stil, ek sal jou vrek maak, het hy op my geskree.”

“Hy het sy hande so in my gesig gedruk dat ek gesukkel het om asem te haal. Bly stil, ek sal jou vrek maak, het hy op my geskree.”
Dit is hoe Martie Oosthuizen (63), wat Woensdagmiddag omstreeks 13:30 by haar huis in Gemsbokstraat oorval en beroof is, haar nagmerrie-ervaring beskryf. Volgens haar was sy in haar kamer besig om klaar te maak toe die honde onophoudelik begin blaf het. Sy het egter niks gesien nie. “Die volgende oomblik het ek ’n groot slag gehoor. Toe ek in die gang afkom staan die twee jong mans voor my. Ek kon sien een van hulle het iets wat soos ’n koevoet gelyk het, in sy hand,” vertel sy. Een van die rowers het Oosthuizen in haar gesig gegryp. “Ek het gesukkel om asem te haal soos hy my vasgehou het,” verduidelik sy.

Die deur blyk of dit oop geskop is

“Waar is die juweliersware? Ons soek niks wat nagemaak is nie! Waar is die kluis? Jy beter stilbly, ons sal jou vrek maak!” het die rowers gelyk op haar begin skree terwyl hulle haar in haar kamer ingedwing het. Volgens Oosthuizen het sy probeer kalm bly en net na die kas beduie.

“Hulle het my kop teen die bed vasgedruk terwyl hulle alles uit die kaste gegooi het. Hulle was nie lank besig nie, toe hardloop hulle weer uit,” vertel sy.

Oosthuizen het gewag dat alles stil is voor sy by die huis uitgegaan het. Haar selfoon is gesteel en sy kon nie dadelik hulp ontbied nie. “Ek het in die pad afgeloop om te sien of daar nie iemand is wat my kan help nie.” Gelukkig het ’n vrou gestop wat Mooirivier Beskerming, ER24 en die polisie ontbied het. “Ek is gelukkig nie beseer nie, maar dit kon egter baie erger gewees het. Hulle was baie aggressief,” vertel sy.
Die polisie het die gesteelde selfoon tot in Carletonville nagespoor waarna dit afgesit is. Volgens Oosthuizen se dogter het sy en haar sussie nog Woensdagaand en selfs Donderdagoggend boodskappe van haar ma se selfoon af ontvang.
Adj.off Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens haar word ’n saak van huisroof ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Manyoba het gesê die verdagtes kan heel moontlik verbind word aan ’n inbraak wat dieselfde dag by Oosthuizen se bure plaasgevind het.
“Gelukkig was haar bure nie by die huis ten tyde van die inbraak nie,” het Manyoba gesê. Oosthuizen is na die voorval hospitaal toe geneem. “Ek wou nie hospitaal toe gaan nie, maar die polisie het gevra dat ek ondersoek word sodat hulle die verslag in die dossier kan voeg,” het Oosthuizen gesê. Volgens haar het sy geen ernstige beserings opgedoen nie. Oosthuizen en haar gesin is baie dankbaar teenoor die vrou wat gestop het om te help, asook vir Mooirivier Beskerming, die polisie en ER24 vir hulle vinnige reaksie.

 

Die veiligheidshek is glo met ‘n koevoet oop gebreek

Sy het ook dankie gesê vir almal se boodskappe en oproepe en vir Johan en Lizelle van den Berg, Natasha Pengilly, Schalk Visser, dr. Kroon en Juanita Viviers. Verlede jaar is Boeta en Lily Smit in Louwstraat, minder as een kilometer van Oosthuizen se huis, wreed aangeval. Boeta is kort na die aanval oorlede en Lily ’n paar maande na die aanval.

 

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/49342/bejaarde-vrou-gemsbokstraat-oorval-en-beroof/

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button