NewsNews

Niesaanval veroorsaak ernstige ongeluk

’n Vrou is dankbaar dat sy leef toe sy Saterdag 9 Junie genies en as gevolg daarvan in ’n botsing met ’n ander voertuig betrokke was.

’n Vrou is dankbaar dat sy leef toe sy Saterdag 9 Junie genies en as gevolg daarvan in ’n botsing met ’n ander voertuig betrokke was.
Hettie de Beer was op pad om toesig te gaan hou by die universiteit toe sy besef dat sy iets by die huis vergeet het. Sy het omgedraai en op pad terug huis toe het sy ’n erge niesaanval gekry.
“Ek nies al die hele maand so. My kollegas spot my al daaroor,” sê sy.

Hettie de Beer sterk in die hospitaal aan

De Beer sê sy kan nie veel onthou nadat sy begin nies het nie, maar toe sy bykom het bloed by haar gesig afgestroom.
Sy was op die hoek van Rivier- en Jeugdstraat in ’n botsing met ’n ander voertuig betrokke.
Niemand is in die ander voertuig beseer nie. De Beer het egter ’n erge kopwond in die ongeluk opgedoen.

“Ek het ’n geweldige sny oor my kop. Ek is net bly dat ek geen breinskade het nie en my skedel is ook nie beskadig nie,” sê sy.

“As ’n mens na die wond kyk dan besef jy dit kon soveel erger gewees het.”
De Beer sê hoewel sy nou goeie behandeling in die hospitaal kry, was sy en haar dogter baie ontsteld oor hoe hulle Saterdag in die ongevalle-afdeling behandel is.
“Nadat ’n man vir my steke ingesit het het hy vir my dogter ’n buisie salf gegee en vir haar gesê om my huis toe te neem en my in die stort te sit.”
Sy sê haar kopwond was so erg dat sy skaars self regop kon staan.
De Beer se dogter het die situasie met die hospitaal opgeneem en De Beer is toe opgeneem en deur ’n ander dokter behandel. De Beer sou moontlik Woensdag ontslaan word.
Woordvoerder van MediClinic Potchefstroom, Diana King, sê dat die hospitaal ondersoek ingestel het in die saak en direk aan De Beer sal terugvoer gee.

Related Articles

 
Back to top button