NewsNews

Potchefstromers trek swaar na brandstof verhoging

"Ons werkers se taxi-ritte raak al duurder, naderhand gaan mense nie meer by die werk kan kom nie.”

Die land is verlede week geruk toe die brandstofprys verhoog is met 82 sent vir ’n liter petrol en 85 sent vir diesel.
Volgens SAFTU is dit die hoogste eenmalige toename in brandstof in Suid-Afrika.

DA leier, Mmusi Maimane, het verlede week in ’n verklaring gesê dis die duurste wat brandstof ooit in Suid-Afrika was sedert 1994.

Midway Busdienste is een van die besighede in Potchefstroom wat die meeste geraak word deur verhogings in brandstofpryse. Hulle gebruik sowat 40 000 liter diesel ’n maand.

Die Herald het met Lou Kruger, eienaar van Midway Noordwes, gesels om te hoor hoe dié toename sy besigheid beïnvloed.

“Ons begroot elke jaar vir moontlike verhogings, maar dit word al moeiliker want ’n mens weet nie meer wat om te verwag nie,” sê hy.

Kruger sê die diesel wat hulle vir die busse aankoop het net in dié jaar met meer as R2 per liter gestyg en daar word voorspel dat dit volgende maand weer gaan styg. Die hoë brandstofprys gaan veroorsaak dat hulle ’n verlies ly aangesien baie van hul kliënte al vroeg vooruit bespreek.

“Skole gee al teen Novembermaand hul programme vir die volgende jaar en ons gee dan vir hulle ’n prys vir hul begrotings.

Ons begroot gewoonlik vir ’n 10% verhoging, want ’n mens verwag nie dat die prys meer as 10% sal verhoog nie. Nou ry ’n bus vir ’n skool in September vanjaar Kaap toe en ons het hulle te min kwoteer. Ons ly dus ’n verlies.”
Hy sê dat die brandstofpryse almal beïnvloed. Skole gaan nie meer kan ry nie, ouers gaan dit nie meer kan bekostig nie en salarisverhogings gaan nie noodwendig genoeg styg om hierdie ekstra koste te dek nie.

“Ons werkers se taxi-ritte raak al duurder, naderhand gaan mense nie meer by die werk kan kom nie.”

“Ons weet nie waar gaan dit ophou nie,” het ’n moedelose Kruger gesê.

Die Motorbedryf Werkswinkelvereniging (MIWA) gee ’n paar wenke oor hoe om brandstof te bespaar:

• Versnel teen ’n gelyke pas in verkeer. Moet nie gereeld versnel in die verkeer nie. want dit gebruik meer brandstof.

• Bestuur in ’n laan wat die minste moontlike verkeer het sodat die motor se spoed konstant bly. Om gereeld vinniger en stadiger te ry, gebruik meer brandstof.

• Moet nie te vinnig versnel wanneer die motorenjin koud is nie. Moet ook nie ’n koue enjin laat luier nie. Dit maak nie brandstofverbruik minder nie en verleng ook nie die leeftyd van die enjin nie.

• As jy in erge verkeer staan, sluit gerus die enjin af en sluit weer aan wanneer jy wegtrek. Moderne enjins is gebou om minder brandstof so te verbruik.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button