NewsNews

Vier sterre vir Noordwes-Universiteit

Die Quacquarelli Symonds-ranglys het die NWU ook onder die top 5% van universiteite wêreldwyd geplaas.

Quacquarelli Symonds (QS) het in sy jongste evaluering aan die Noordwes-Universiteit (NWU) ’n algehele vierstergradering toegeken.
Die NWU het voorheen in 2012 drie sterre gekry.
Prof. Dan Kgwadi, visekanselier, sê die vierstergradering bevestig die vordering met die realisering van die NWU se droom om ’n internasionaal erkende universiteit in Afrika te word.

“Hierdie gradering help die bestuur om ons vordering sedert ons laaste evaluering akkuraat te bepaal.”

Die QS-graderingstelsel is ’n internasionale evalueringstelsel wat universiteite evalueer. Dit verskaf aan studente ’n onpartydige, bewysgebaseerde gradering wat hulle kan help om ’n universiteit te kies.
In die jongste gradering is die NWU in die volgende kategorieë geëvalueer: ’n spesialisvakgebied; navorsing; onderrig; indiensneembaarheid; internasionalisering; geriewe; innovasie; en maatskaplike verantwoordelikheid.


Die NWU het vyf sterre in die kategorieë vir onderrig, indiensneembaarheid, innovasie en geriewe ontvang.
In die kategorie vir onderrig het studente ’n hoë vlak van tevredenheid in hulle algehele ervaring, en met ons onderrig-leer-aanbod gemeld.
Die universiteit het volpunte vir die aanwyser ten opsigte van teenwoordigheid van kampuswerkgewers ontvang, aangesien daar meer as 200 maatskappye is wat die NWU se kampusse jaarliks vir aktiwiteite vir indiensneembaarheid besoek.
Die NWU se geriewe is uitnemend, met sportgeriewe van wêreldgehalte, en ’n goeie hoeveelheid studenteverblyf, asook goeie infrastruktuur vir inligtingstegnologie, studente-ondersteuningsgeriewe, en ’n wye verskeidenheid studenteverenigings.
Die NWU is ’n leier met innovasie, met ten minste 50 aktiewe patente, meer as 500 samewerkingsooreenkomste vir navorsing met die bedryf, en ten minste vyf afwentelmaatskappye wat die afgelope vyf jaar gestig is.
Die Quacquarelli Symonds-ranglys het die NWU ook onder die top 5% van universiteite wêreldwyd geplaas.

Related Articles

Back to top button