NewsNews

Appél na borg in saak oor doodsdreigemente nie toegestaan is nie

Een van die mans en die vrou wat Woensdag weer in die hof vir ’n borgaansoek was nadat hulle van sameswering om moord en of verkragting te pleeg aangekla is is borgtog geweier.

Een van die mans en die vrou wat Woensdag weer in die hof vir ’n borgaansoek was nadat hulle van sameswering om moord en of verkragting te pleeg aangekla is is borgtog geweier.

Volgens die vrou se regsverteenwoordigers het hulle instruksie ontvang om op ‘n dringende basis te appelleer teen die landdros se besluit om nie borg aan haar toe te staan nie.
Die ander man is op ‘n waarskuwing om weer in die hof te verskyn vrygelaat.
Marilize Minné en Ahmod Shiraz Sheik is borgtog geweier en Christo Jordaan is op waarskuwing vrygelaat. Al drie is Maandag 4 Junie in hegtenis geneem.
Dit volg nadat Sheik glo Saterdagmiddag 2 Junie ‘n man en sy gesin telefonies met die dood gedreig het.

Volgens hom het Sheik gedreig om sy vrou en kleindogter, wat vier jaar oud is, te verkrag en vermoor.

Hy het na die polisie gegaan waarna ‘n polisie-optrede vir Maandag 4 Junie beplan is wat tot Sheik se inhegtenisname gelei het. Volgens die ondersoekbeampte, kst. Jane Caiya, se getuienis het Sheik glo aan haar gesê dat hy deur Minné en Jordaan aangesê is om die man te dreig.
Volgens Caiya het hy ook ’n bekentenis voor die senior magistraat afgelê.
Sheik se regsverteenwoordiger het die geldigheid van die bekentenis betwis omdat sy nie eers in kennis gestel is daarvan nie.
Oor hierdie rede het die landdros nie toegelaat dat die staat die inhoud van die bekentenis op rekord plaas nie.
In sy uitspraak oor die borgaansoek het die landdros gesê die hof is nie gemaklik daarmee om Sheik op borgtog vry te laat nie.
Hy het gesê dat Sheik die een was wat die dreigemente gemaak het en dat hy weet waar die klaer woon en dat hy nou weet hoe die klaer lyk.
“Die veiligheid van die slagoffers kan nie gewaarborg word as die beskuldigde borg toegestaan word nie,” het hy gesê.
Jordaan is op waarskuwing vrygelaat nadat hy nie aan die klaer verbind kon word nie. Volgens die landdros is die enigste bewyse wat Jordaan verbind dat Sheik glo aan die ondersoekbeampte gesê het dat hy deur Minné en Jordaan aangesê is om die man te dreig.
Die staat het glo ’n handgeskrewe dokument in Jordaan se kantoor gevind waarop soortgelyke woorde wat deur Sheik gebruik is om die klaer te dreig geskryf was.
Die landdros het aangevoer dat daar nog geen bewyse is dat Jordaan die nota geskryf het nie.
Minné is ook borgtog geweier nadat die hof nie tevrede was dat Minné nie met die getuienis sal inmeng of dreig nie.
In sy uitspraak het die landdros aangevoer dat dit nie betwis word dat Sheik en Minné mekaar geken het nie.
Die verdediging het argumenteer dat die verhouding tussen die twee slegs professioneel was.
Sheik het glo vir Minné gehelp met haar selfoonkontrak.

Ahmod Shiraz Sheik is nie borg toegestaan nie

Die landdros het aangevoer dat as die verhouding tussen Minné en Sheik slegs professioneel was hoekom sou Sheik haar spesifiek identifiseer as die persoon wat saam met hom die misdaad gepleeg het.

“Die beskuldigde ken ook die klaer en sy gesin baie goed,” het die landdros gesê.

Minné en die klaer se vrou was goeie vriende totdat ’n onderonsie tussen hulle ontstaan het. Minné was glo in ’n buiteglike verhouding waarna die klaer se vrou uitgevind het dat Minné haar gebruik as ’n verskoning om vir die man met wie sy die verhouding gehad het te gaan kuier. Die klaer se vrou het haar daaroor konfronteer.
Volgens die landdros is dit duidelik op hierdie punt dat die verhouding tussen Minné en die klaer se vrou versuur het.

“Veral omdat die ondersoek nog aan die gang is, is dit moeilik vir die hof om te glo dat die beskuldigde nie met die getuies sal inmeng nie.

Veral nadat die beskuldigde kort nadat sy in hegtenis geneem is, die klaer wou kontak om die situasie uit te sorteer,” het die landdros gesê.

Beide Minné en Jordaan het deur hul regsverteenwoordigers aangedui dat hulle beplan om op alle aanklagtes onskuldig te pleit.
Die saak is tot 13 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/48969/ek-gaan-haar-verkrag-en-haar-keel-afsny-word-oupa-se-kleindogter-4-gedreig/

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/48810/drie-potch-vas-oor-afpersing-doodsdreigemente/

Related Articles

Back to top button