NewsNews

Man veg terug teen rowers

’n Man het Woensdagoggend 16 Mei tydens ’n inbraak by sy huis in Kgakastraat twee rowers met ’n skuifdeur gegooi.

’n Man het Woensdagoggend 16 Mei tydens ’n inbraak by sy huis in Kgakastraat twee rowers met ’n skuifdeur gegooi.
Volgens Jonathan Wayne het hy omstreeks 03:00 wakker geword van sy hond wat blaf. Hy het gaan ondersoek instel. Sy Amerikaanse veghond het vooruit gehardloop.
“Toe ek om die draai kom, sien ek hoe my hond besig is om een van die mans se enkel te byt,” vertel hy.
Albei mans was met vuurwapens gewapen.
“Ek is baie erg oor my honde en ek wou haar net uit die pad kry,” het hy gesê. Hy het die hond gegryp, waarna hy terug is in die huis. Toe hy in die huis inbeweeg het hy die skuifdeur toegeklap, maar dit het met die slag van die relings afgekom.

“Die eerste ding wat ek aan kon dink, was om die deur na hulle toe te gooi,” vertel hy.

Hoewel die hond een van die mans getakel en Wayne die deur na hulle gegooi het, het hulle steeds binne die huis ingekom.
Hulle het die vuurwapens op Wayne en sy hond gerig. “Hulle het baie haat in hulle oë gehad. Ek het net gesê hulle moet maar alles vat,” vertel hy.

 


Die twee het ’n televisie gevat. “Ek weet nie wat het ek gedink nie, maar toe hulle die TV vat, toe gryp ek en ruk hom terug,” vertel Wayne.
Daar was ’n kort onderonsie tussen Wayne en die verdagtes en hulle het hom weer met vuurwapens gedreig, waarna hy die TV gelos het.
“Net toe hulle uit is, het ek die polisie gebel en ’n boodskap op ons groep gesit. Ek het hulle gevolg tot by ’n muur waar hulle wou oorspring. Ek het begin toeter blaas en my ligte geflits,” vertel hy. Die verdagtes het die TV neergesit, waarna hulle oor die muur gespring het. Volgens Wayne het hy hulle in die omliggende area gaan soek maar kon hulle nie vind nie.

“Die ergste is dat selfs nadat die hond hulle gebyt het en ek hulle met die skuifdeur gegooi het,het hulle steeds ingekom,” vertel hy.

Volgens hom het die rowers nie eers haastig van die toneel gevlug nie. Slegs Wayne se skootrekenaar is gesteel.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, word ’n saak van huisroof ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

 

Related Articles

 
Back to top button