KYK: Gaanbos Trading open splinternuwe skietbaan in Potchefstroom

Potchefstromers kan nou bos gaan by hierdie nuwe binnemuurse skietbaan in Du Plooystraat. Kyk die video hier.

Riaan Barnard, eienaar van Gaanbos Trading, ‘n vuurwapenwinkel in Potchefstroom, het onlangs ’n splinternuwe binnemuurse skietbaan in die hartjie van Potchefstroom oopgemaak.

Die Herald het dit gaan uittoets en met twee verskillende handwapens sowel as ’n geweer geskiet. Die skietbaan het vier hokkies waaruit geskiet kan word, so vier mense kan langs mekaar staan en skiet. Die skietbaan het reeds oormowwe en brille, so diegene wat wil kom skiet, hoef nie hul eie saam te bring nie.

Daar is ook verskillende teikens wat in die baan geskiet kan word. Wanneer jy gaan skiet is dit belangrik om altyd oor- en oogbeskerming te dra. Die perseel is baie veilig. Die NRCS het die veiligheid van die skietbaan gedoen en ’n sertifikaat aan Gaanbos uitgereik om te bevestig dat die baan skietvriendelik en klankdig is.

Charlene Sharpley van die Herald geniet ‘n skietsessie by Gaanbos se nuwe skietbaan.

Die ligging van die skietbaan is ook baie veilig en op ’n hoek waar min tot geen misdaad plaasvind. Daar word ook geen wapens op die skietbaan se perseel gehou nie en daarom is die moontlikheid van wapendiefstal vanuit die perseel onmoontlik. Jy hoef ook nie jou eie vuurwapen te besit om die skietbaan te kom geniet nie. Riaan het vuurwapens by sy winkel wat gebruik kan word om te skiet.

“As jy met my kom reël dan vergesel ek jou en ons kom skiet met Gaanbos se wapens.” Riaan sluit dan ’n kort skietles daarby in vir mense wat nog nie weet hoe om wapens te hanteer nie. Vuurwapen veiligheid is vir hom baie belangrik en dit word ook tydens die les behandel.

“As mense op die regte en veilige manier leer om wapens te hanteer, kan mens ’n klomp onnodige situasies uitskakel en die genot en plesier van die hele skietoefening beleef. Iemand kan hier wegstap met ’n baie lekker ondervinding wat wapens aanbetref.”

Daar is ook geen ouderdomsbeperking wat die skietbaan aanbetref nie, maar minderjariges moet deur ’n ouer en deur Riaan self vergesel word. “Kinders is meer as welkom om te kom skiet. Hier is ’n paar jongelinge wat met hul windbukse hier kom skiet.” Skiet is vir enige iemand, maak nie saak of jy ’n man of vrou is, of jy van die plaas of stad af is nie. Vir Riaan is dit belangrik dat veral vroue wat kom skiet veilig voel om alleen hierheen te kan kom en te kom skiet.

“Ons het altyd ’n persoon op die perseel. Shaun is hier om jou te help en jou vrae te beantwoord. Mense kan tydens hul etenstyd ook vinnig kom skiet of na werk die dag se stres op die teikens kom uithaal.”

Die Gaanbos skietbaan is op die hoek van Du Plooy en Walter Sisulustraat en dit kos R100 per persoon per sessie. Enigeen wat wil skiet kan met Riaan self reël, deur hom te gaan sien by sy winkel in Canal Crossing. Die skietbaan is weeksdae van 09:00 tot 18:00, Saterdae van 09:00 tot 15:00 en Sondae van 10:00 tot 13:00 oop.

Skakel Riaan by 018 290 5379 om jou eie skietervaring te geniet.

Kyk Riaan Barnard se video hier:

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version