Potch-dame ry veteraanmotors in styl

Wilma is die wenner van die beste Europese voertuig by vanjaar se Noordwes Motorskou wat op 1 Mei gehou is. Sy het hierdie prys verower met haar baie skaars Mercedes Benz 180 D bakkie,’n 1957 model.

“Omdat ek ’n vrou is, neem mense my nie altyd ernstig op wanneer ek onderdele vir ‘n motor probeer koop nie.”
So sê Wilma Kooij, die Potchefstroomse dame wie se skoondogter, Erika, haar beskryf as ’n regte ‘petrol head’ omdat sy so ’n groot belangstelling en liefde vir veteraanmotors het.

Wilma is die wenner van die beste Europese voertuig by vanjaar se Noordwes Motorskou wat op 1 Mei gehou is. Sy het hierdie prys verower met haar baie skaars Mercedes Benz 180 D bakkie,’n 1957 model.

Die algehele wenners was Danie Correia wat eerste was met sy Chevrolet 210 tweedeur 1954 model en in die tweede en derde plek was Ben van Dyk met sy AC Cobra 2007 model en Rika Pretorius met haar Renault Caravelle 1965 model. Die wenner van die motor van die jaar was Willem Els met sy Bentley 1960 model.

Wilma het drie veteraanmotors, ’n 1939 Chevy, ‘n 1957 diesel Mercedes Benz bakkie en ’n 1958 220 S Mercedes Benz. Sy het ’n vierde motor by die see, maar dit is nie so oud soos die drie wat in Potchefstroom is nie.

“Ek het altyd in ou motors belang gestel. Jare terug was daar ’n veteraan motorgroep wat van Johannesburg na Pretoria gery het en dan het ons altyd by die fonteinedal in Pretoria gestaan en die motors bekyk. Ek was seker hier in my vroeë 20’s toe het ek al ’n motor begeer,” sê sy.

Later van tyd het sy haar eerste maroen Ponton Mercedes gekoop. “Een middag kom my man by die huis en sê hy wil vir my iets gaan wys in Klerksdorp. Hy het vir my ’n 1939 Chevy gekoop. Die motor het ’n ses volt battery gehad, so sy liggies het soos twee kerse voor gelyk en toe het ek die kar in die donker teruggery.” Sy sê haar man het haar baie ondersteun in haar liefde vir die ou motors, maar om hierdie motors te restoureer is baie werk.

Wilma Kooij se drie pragmotors staan by die motorskou uitgestal. Foto: Verskaf

Sy het gehoor van ’n baie skaars Mercedes bakkie wat sy baie graag wou hê. “Daar was ’n mnr. Rossouw wat hier by Vyfhoek-hoewes gewoon het wat so ’n bakkie gehad het. Toe hy oorlede is, was daar ’n veiling van sy voertuie en daar het ek dié bakkie en die 220 S Mercedes gekoop.”

Sy sê dat albei die motors gerestoureer moes word en dit het sowat 10 jaar geneem om die motors perfek te kry. “Ek kon dit nie self doen nie en moes mense vra om my te help.”

“As jy ’n veteraanmotor restoureer dan probeer jy hom so naby as moontlik aan die oorspronklike motor kry. Dit is waar die probleme inkom, want dit is die klein goedjies waarna jy soek soos die rubbertjies wat op die pedale van die voertuig kom en die klein kantvenstertjies wat oop en toemaak. Daardie rubbertjies moet op ’n spesifieke manier gegiet word en dit is wat dit moeilik maak.”

Hierdie is alles onderdele wat sy oorsee gekry het.
Later het sy ’n mnr. Swanepoel ontmoet, wat die president van die Noordelike streek van die Mercedes Benz klub was, wat haar baie gehelp het. “Dit was regtig meer as 10 jaar se gesukkel om die voertuie in die toestand te kry waarin dit vandag is.”

’n Baie goeie vriend van haar, Leon Vercueil, het haar ook baie gehelp met haar motors. “Hy het my verskriklik baie gehelp met die fyn afwerking van die motors.” Hoewel sy nie self haar motors kon restoureer nie, het daar wel van haar eie handewerk in die restourasie daarvan gegaan. Haar 220 Mercedes het baie houtwerk en dit het sy alles self afgeskuur en vernis. Sy het ook al die chroomwerk aan haar Chevy self gepoleer en mooi gemaak en die letterwerk op die wieldoppe self met ’n kwassie geverf.

“So deur die jare het ek baie geleer van die ou motors,” sê sy. Sy sê dat dit vir haar baie lekker was om haar pragmotors by die motorskou uit te stal. “My kinders, kleinkinders en vriende het almal kom kuier en ons het ’n vreeslike lekker dag gehad.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version