“Hierdie kon my doodsberig gewees het,” sê man oor aanval

“Dit kon baie erger gewees het, hierdie kon net sowel my doodsberig gewees het.”

“Dit kon baie erger gewees het, hierdie kon net sowel my doodsberig gewees het.”
So het ’n bekende sakeman in die stad gereageer nadat hy in sy huis deur twee mans aangeval en beroof is.
Danie Rothman (61) bekende rekenmeester in Potchefstroom, is Maandagoggend omstreeks 03:00 deur twee mans aangerand en beroof.


Volgens Rothman het hy in sy kantoor aan die slaap geraak.
“Jy kan op die kameras sien dat drie gewapende mans onder die alarms inkruip. Terwyl ek geslaap het, het een van hulle met sy hand op ’n vuurwapen by my gestaan,” vertel Rothman.
Die oomblik toe hy wakker word het twee van die mans hom gegryp. ’n Onderonsie het tussen die twee en Rothman ontstaan.

“Ek het geskree en gestoei en dit is toe dat een van hulle my met ’n swart voorwerp oor die kop geslaan het,” vertel hy.

Volgens hom het die hele bakleiery nie meer as vyf sekondes geduur nie. Die drie mans het daarna in ’n Polo gevlug.
Sy seun, wat ook tuis was, is kort nadat die mans gevlug het, na sy pa se kantoor.
Volgens Rothman is dit ’n wonderwerk dat die mans hom nie net daar geskiet het nie.

“As ’n Christen glo ek dat dit die Here se genade was dat hulle my nie geskiet het nie,” sê hy.

Volgens hom is hy erg getraumatiseer. Rothman woon al sedert 1987 in Potchefstroom. Dit is die eerste keer dat hy die slagoffer van ’n rooftog is wat met soveel geweld gepaard gegaan het.
Mooirivier Beskerming en die polisie is na die toneel ontbied. Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die rowers verskeie elektroniese toestelle en kontant gesteel.
“Die verdagtes het al drie klapmusse opgehad. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof,” het Chaka gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version