Potchefstromers staan erg beseerde man by

“Kaap toe en terug geen probleme nie, 100 kilo’s van my huis af, dan gebeur dit.” So het ’n 59-jarige motorfietsryer gesê nadat hy tydens ‘n botsing in Potchefstroom ernstig beseer is.

“Kaap toe en terug geen probleme nie, 100 kilo’s van my huis af, dan gebeur dit.”
So het ’n 59-jarige motorfietsryer gesê nadat hy tydens ‘n botsing in Potchefstroom ernstig beseer is.

Volgens Mike van der Sandt was hy op sy motorfiets op pad terug van die Kaap af nadat hy oor die langnaweek by sy seun gaan kuier het.


“Ek het in Kimberley oorgeslaap. Toe ek in Potch stop, het ek nog vir myself gesê nog net 100km oor,” het Van der Sandt, wat in Vanderbijlpark woon, gesê. Volgens hom het hy in Paryslaan gery toe ’n ander voertuig skielik voor hom ingery het.
“Hy is in my vas, waarna ek bollemakiesie oor die voertuig geslaan het. Teen die tyd wat ek op die teer geland het, was daar dadelik mense by my,” het hy gesê.
Volgens hom het ’n vrou by hom gaan sit terwyl ander inwoners die ambulans en selfs sy familie gekontak het.
Van der Sandt is deur IMR ambulansdienste na Mediclinic Potchefstroom geneem vir verdere behandeling. Hy is Woensdag ontslaan nadat hy ‘n operasie aan sy linker elmboog moes ondergaan.
“My elmboog is vergruis, hulle moes basies die hele ding oorbou. Dan het ek ’n paar gekneusde ribbes. Ek kan net baie dankie sê. Dit kon baie erger gewees het as die Potchefstromers nie so flink opgetree het nie. Ek weet nie of mense in Vanderbijlpark so graag sou help nie,” het hy gesê.
Volgens hom weet hy nie eens wie al die mense is wat hom bygestaan het nie, maar hy waardeer elkeen van hulle.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version