Jou vullis, jou verantwoordelikheid

Dit is elke inwoner van Potchefstroom se verantwoordelikheid om te help herwin. Indien dit nie moontlik is nie, kan elkeen sy eie vullis sorteer om dit makliker te maak vir straatherwinnaars.

Dit is elke inwoner van Potchefstroom se verantwoordelikheid om te help herwin. Indien dit nie moontlik is nie, kan elkeen sy eie vullis sorteer om dit makliker te maak vir straatherwinnaars.

Dit is die mening van Werner van der Merwe, eienaar van Deswalner Recycling, ’n herwinningsaanleg in Potchefstroom.

Die meerderheid inwoners van Potchefstroom herwin nie. Die meeste mense sit net hul vullissakke op die sypaadjie vir die munisipaliteit se rommelverwyderingsdienste om dit te kom haal. Daar is wel oral waar ’n mens kyk mense wat in die oggende deur die sakke grawe om herwinbare materiaal uit te haal.

Hierdie mense neem dan die materiaal na een van die herwinningsaanlegte in die stad, in ruil vir ’n paar rand – gewoonlik net genoeg om te betaal vir die daaglikse brood.

Inwoners het al hieroor gekla, aangesien dit baie gebeur dat hierdie straatherwinnaars nie altyd agter hulle skoonmaak nie. Daar is wel ’n manier hoe inwoners die gemors op hul sypaadjies kan vermy, en dit is om te help herwin.

Van der Merwe sê die beste manier is as inwoners hul rommel self sorteer voordat hulle die sakke op die sypaadjie plaas. Plaas herwinbare materiaal in aparte sakke, verkieslik deurskynende sakke sodat straatherwinnaars nie nodig het om deur alles te grawe nie.

“Die maklikste is om houers vir die vier hoofgroepe neer te sit, naamlik plastiek, glas, papier en blikkies. Indien die ruimte dit nie toelaat nie, is selfs twee houers genoeg. Een vir al die houers: glas, plastiek, metaal, en Tetra Pak en een vir papier en karton.”

Van der Merwe sê dat Deswalner fokus op die armer groep mense in Potchefstroom aangesien hulle vergoeding gee vir herwinbare materiaal. Hy sê die probleem in Potchefstroom is dat die middel- en hoëklas gemeenskap nie weet hoe om te herwin nie, of net nie omgee daaroor nie.

Van der Merwe sê dat herwinning wel besig is om toe te neem in Potchefstroom. Toe hy vier jaar gelede met sy besigheid hier begin het, het hy sowat 40 ton se herwinbare materiaal per maand verwerk en nou verwerk hy sowat 340 ton per maand.

In hierdie stadium is hul grootste besigheid van die arm mark, die mense wat op straat loop en herwinbare materiaal uit sakke haal.

“Ek is wel nou besig om in die hoë- en middelklasmark ook in te beweeg. Ons is besig met een of twee projekte waar ons ons eerste herwinningstasies wil oprig waar die publiek hul herwinbare goedere kan ingooi.
Meer inligting hieroor sal binnekort bekend gemaak word.

Deswalner Recycling is een van net ’n handjievol herwinningsmaatskappye in Potchefstroom. Deswalner Recycling en Pick-Up Waste Recycling is die enigste herwinningsmaatskappye in Potchefstroom wat huishoudelike herwinbare materiaal herwin.

Inwoners kan die volgende items by Deswalner Recycling laat herwin:

Papier – dit sluit in wit papier, tydskrifte, koerante en boeke.
Karton – enige vorm van kartonbokse, asook melk- en vrugtesap bokse (Tetra Pak) kan hier herwin word.
Plastiek – alles van plastiese broodsakkies tot 20 liter waterkanne sowel as tuinslange, ou asblikke of wasgoedpennetjies. Dit sluit nie rubber produkte in nie.
Aluminium – dit sluit alleenlik aluminium koeldrank- en bierblikkies in.
Staal – slegs klein staalblikkies word hier herwin soos kruideniersware blikkies (vleis, konfyt en koffieblikkies) sowel as leë verfblikke.
Elektroniese afval – rekenaars, selfone en meeste ander kantoor of huishoudelike elektriese en elektroniese toestelle.
Glas – alle kleure en groottes glashouers of bottels.

Inwoners kan hul herwinbare goedere van Maandae tot Vrydae tussen 07:30 en 17:30 self na Deswalner Recycling bring, maar hulle sal vragte van 300 kg en swaarder kom oplaai.
Deswalner Recycling is by Ross Straat 31, Potch Industria.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version