NewsNews

Rower skiet student, steel niks

“Daar is geen rede dat dit moes gebeur nie. Ek kan dit steeds nie verstaan nie.”

“Daar is geen rede dat dit moes gebeur nie. Ek kan dit steeds nie verstaan nie.”
So sê ’n student wat vroeg Sondagoggend, 8 April deur ’n rower geskiet is tydens ‘n voorval van sinnelose geweld wat met die rooftog gepaard gegaan het.
Volgens ’n steeds erg geskokte Magda Geldenhuys (21), honneurstudent aan die NWU, het sy omstreeks 03:00 saam met haar vriendin, Monique Fourie (21), by haar woonstel in Malherbestraat aangekom.


Sy was halfpad uit die voertuig toe sy ’n man met ’n vuurwapen voor haar gesien het. Volgens Magda het die man selfone geëis.
“Ons het nie ons selfone by ons gehad nie, waarna ek gesê het ons sal ons beursies vir hom gee. Hy het kort-kort gesê ons moet gou maak,” vertel sy.
Terwyl Magda en Monique besig was om hulle beursies bymekaar te kry, het die rower ’n skoot geskiet.
Dit het Magda in die heup getref en die koeël is aan die anderkant uit. Volgens haar het die man nie eers weggehardloop nadat hy haar geskiet het nie.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/46465/rower-skiet-student/
“Klim in en sluit die deur,” het Monique toe vir haar gesê. Volgens Magda was sy so geskok dat sy gesukkel het om te beweeg.
“Ek kan nie, Monique, ek is geskiet,” het sy geantwoord.
Nadat Magda in die voertuig geklim het, het Monique met haar hospitaal toe gejaag.
“Ek het my ma op pad hospitaal toe gebel. Ek het net gesê: ‘Mamma ek is geskiet, maar ek is oukei’. My ma het dadelik van Nylstroom na Potchefstroom gejaag,” vertel sy.
Volgens Magda is dit ’n wonderwerk dat sy nie ernstig beseer is nie.
“Dit is ongelooflik. Die Here het daardie aand sy hand oor my gehou. Ek kon verlam gewees het. Die koeël het by die hospitaal uit my klere geval,” het sy gesê.
Sy is Sondagoggend opgeneem en is reeds Dinsdagoggend sonder enige ernstige beserings ontslaan.
“Ek het nooit gedink hy sal op ons skiet nie. Ons het kalm gebly, saamgewerk en alles gedoen wat hulle altyd vir ’n mens sê om te doen.
“Die ergste is dat hy niks eers gekry het nie, nie eers R20 nie,” vertel Magda.
Monique, wat aan diabetes ly, se bloedsuiker het na die voorval erg geval. Soveel so dat sy ook in die hospitaal opgeneem is.
“Ons het langs mekaar in die hospitaal gelê. Dit voel of Magda my beskerm het, en ek haar gehelp het om by die hospitaal uit te kom. Ons is regtig saam deur die ding,” vertel Monique.
Ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens haar word ’n saak van poging tot gewapende roof ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Louis Jacobs, NWU woordvoerder, het gesê dit is jammer om te hoor dat enige NWU student ‘n slagoffer van misdaad is.
“In hierdie geval word Magda ‘n spoedige herstel toegewens. Studente word weer eens versoek om soos enige ander inwoner van Potchefstroom, oplettend te wees vir aktiwiteite rondom hulle, veral wanneer hulle snags rondbeweeg,” het Jacobs gesê.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button