“Afrikaanse gemeenskap moeg vir leë beloftes” sê Solidariteit

“Afrikaans is in sy laaste loopgraaf.” Dit is hoe dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die situasie by die NWU beskryf.

“Afrikaans is in sy laaste loopgraaf.”
Dit is hoe dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, die situasie by die NWU beskryf.
Hy het gereageer na aanleiding van ’n verklaring deur prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, waarin hy belanghebbendes ingelig het dat die taalbeleid van die NWU hersien word.
“Dit behels ‘n proses met verskeie strukture en belanghebbendes. Alle beleide van die NWU is in die proses van hersiening ná die aanvaarding van ’n nuwe strategie, struktuur en statuut,” lui die verklaring.
In ’n ope brief skryf Hermann dat Solidariteit dokumente bekom het wat prof. Robert Balfour, adjunkvisekanselier vir onderrig en leer, aan die bestuurskomitee van die NWU voorgelê het waarin voorgestel word dat die onderrigtaal van die NWU Engels moet wees.


Volgens Louis Jacobs, NWU woordvoerder, is daar egter nog geen konsepbeleid by die NWU se bestuurskomitee (UBK) ingedien nie.
“‘n Gespreksdokument is wel ter tafel gelê as deel van ‘n dinkskrum oor die saak.
Die UBK het daarna verskillende insette geformuleer wat deurgegee is aan die taakspan wat die taalbeleid hersien,” het hy gesê.
Volgens Kgwadi sal verskeie belanghebbendes, insluitend die fakulteitsrade, die konvokasie, die Senaat, akademici, ondersteuningsdienste, studenteverteenwoordigers en die Institusionele Forum terugvoer gee en insette lewer.
“ ‘n Elektroniese taalopname word tans gedoen om personeel en studente se insette te kry. Die Senaat, as die akademiese beheerliggaam, sal die geleentheid kry om insette te lewer voordat dit in Junie aan die NWU-Raad voorgelê word vir oorweging,” lui die verklaring.
In die verklaring gee Kgwadi die sekerheid dat die nuwe taalbeleid nie net eentalig sal wees nie “aangesien sowel ons statuut as die nasionale taalbeleid vir hoër onderwys van ons vereis om meertaligheid te bevorder.”
Hermann sê hy is egter nie so seker oor dit wat Kgwadi belowe nie. Volgens ’n ander ope brief wat hy aan Balfour rig, verwys hy na vorige beloftes wat volgens hom verbreek is.
Hy verwys na die naam Potchefstroomse Universiteit (PU) vir Christelike Hoër Onderwys (CHO) waar die CHO uit die naam gehaal is, die gedesentraliseerde model waar elke kampus uniek sou wees, die akroniem PUK wat nie meer gebruik mag word nie asook die korporatiewe kleure wat na pers verander is.
“En nou, nou moet Potch Engels word. Die Afrikaanse gemeenskap is moeg vir herhaaldelike beloftes wat verbreek word. By die NWU moet ons eenvoudig nee sê,” lui Hermann se brief.
Solidariteit beplan groot veldtogte om studente, oud-studente en Afrikaanssprekendes te mobiliseer teen Engels op die PUK.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version