NewsNews

Dit het gevoel soos iets uit ‘n ‘movie scene’

Susan Cilliers Dit het vir Izelle Claassen gevoel of iets wat dood was, weer lewend word toe sy haar gesteelde antieke viool in ’n pandjieswinkel in Klerksdorp kry. Dié professionele violis van Potchefstroom het die handgemaakte viool uit Frankryk binne ’n dag nadat dit in Januarie gesteel is met die hulp van vriende, familielede en …

Susan Cilliers
Dit het vir Izelle Claassen gevoel of iets wat dood was, weer lewend word toe sy haar gesteelde antieke viool in ’n pandjieswinkel in Klerksdorp kry.
Dié professionele violis van Potchefstroom het die handgemaakte viool uit Frankryk binne ’n dag nadat dit in Januarie gesteel is met die hulp van vriende, familielede en die polisie opgespoor.
Hulle het by meer as 30 pandjieswinkels gesoek voordat hulle die viool gekry het.
Die instrument is honderde jare oud. “Dis ’n hedendaagse Lukas 15-verhaal,” sê Claassen oor die viool wat sy al 17 jaar besit en waarmee sy in verskeie oorsese lande opgetree het.
“Al is daar nog 99 skape, sal die skaapwagter uitgaan om een te soek wat weggeraak het.
“Toe my viool gesteel is, het dit gevoel of ’n deel van my weggeruk is, my stem gesteel is. Elke viool het ’n unieke klank, my viool het my lewe se klankbaan geword. Met my viool op die rug het ek die wêreld verken en die mooiste avonture gehad.
“Ek is oorweldig deur hoe almal by my gestaan het toe dit gesteel is – selfs tannies in Klerksdorp het na pandjieswinkels gery.”
Die viool is op 24 Januarie in die etensuur uit Claassen se motor naby haar koffiewinkel in Potchefstroom gesteel. “Ek het die polisie laat weet, boodskappe op Facebook en WhatsApp gestuur, pamflette versprei en musiekwinkels gevra om hul oë oop te hou. Ek het gehuil asof ’n mens dood is.”
Die volgende oggend het Claassen met die hulp van vriende, familielede, personeellede by haar koffiewinkel en die polisiemanne ao. Koos van der Merwe en sers. J.A. Brazer verder gesoek. Hulle het pandjieswinkels in Parys, Potchefstroom en Klerksdorp gebel en só gehoor die diewe het die viool en ander instrumente wat hulle uit Claassen se kar gesteel het vergeefs aan Cash Crusaders in Klerksdorp probeer verkoop.
Sy en haar ma, Lorraine, het Klerksdorp toe gery. Daar is hulle van die een pandjieswinkel na die ander. Een van Claassen se personeellede het by die Goldfields-pandjieswinkel in Klerksdorp uitgevind drie diewe het die instrumente ook daar probeer verkoop, maar hulle kon nie op ’n prys ooreenkom nie.
Claassen was nie van plan om ook by dié pandjieswinkel te stop nie. Sy het verdwaal en laatmiddag, toe sy al moedeloos was, toevallig verby Goldfields gery.
“Ek het uitgeklim, dit was ’n laaste uitweg.”
Die eienaar, Piet Pretorius, het vir haar kringtelevisiemateriaal gewys waarop gesien kan word hoe die diewe die instrumente probeer verkwansel.
“Ek het begin huil toe ek hoor een van die diewe het gesê hy verkoop die viool, want hy kan dit nie speel nie.”
Pretorius het haar gehelp om nóg pandjieswinkels te bel waar sy nog nie was nie. “Ek kon uit die vrae wat ’n eienaar gevra het, aflei die viool is daar. Ek het die polisie dadelik laat weet, maar hy het kort daarna self gebel en erken hy het die instrumente vir R1 000 gekoop.”
Claassen sê dit het “gevoel soos iets uit ’n “movie scene” toe sy saam met twee polisiemanne in uniform na die winkel is. Die viool was nie daar nie omdat die eienaar dit na sy huis geneem het om te laat waardeer. Claassen het dit die volgende dag by die Klerksdorp-polisiekantoor gaan haal.
Toe sy ’n paar dae later verjaar, het sy ’n groot koek laat bak om ook haar viool se tuiskoms te vier. “Almal wat my so ongelooflik bygestaan het en almal wat die koffiewinkel daardie dag besoek het, het koek gekry.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button