Vrou vir byna twee ure in donker hysbak vasgekeer

’n Vrou het verlede Dinsdag ’n nagmerrie-ondervinding gehad toe sy vir sowat ’n uur en ’n half in ’n hysbak vasgekeer was in die gebou waar sy werk. Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, sê dat sy Dinsdagoggend sesuur werk toe gegaan het en in die hysbak geklim het om by die derde …

’n Vrou het verlede Dinsdag ’n nagmerrie-ondervinding gehad toe sy vir sowat ’n uur en ’n half in ’n hysbak vasgekeer was in die gebou waar sy werk.

Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, sê dat sy Dinsdagoggend sesuur werk toe gegaan het en in die hysbak geklim het om by die derde vloer van die gebou te kom. Sy sê dat die hysbak by die derde vloer gestop het, maar dat die deure nie oopgegaan het nie.

“Die hysbak het toe geruk en ’n entjie geval. Dit het toe weer gebeur,” sê sy. Die hysbak het toe tussen die tweede en derde vloer tot stilstand gekom en die ligte binne die hysbak het afgegaan. Sy het die klokkie binne die hysbak gelui, maar niemand het kom help nie.

“Ek kon die hysbak se binnedeur op ’n skrefie oopkry en het deur die gleufie om hulp geroep.”

Omdat dit baie vroeg was, was daar min mense in die gebou, en dit het lank geneem vir iemand om haar hulpkreet vanuit die hysbak te hoor. Intussen het sy vir haar kollega ook ’n boodskap gestuur, wat toe nog by die huis was. “Toe ek daar kom, was daar reeds sekuriteitsmense wat probeer het om haar te help, maar hulle kon nie die hysbak oopkry nie,” sê haar kollega. Haar kollega sê dat hulle verskeie kere die maatskappy wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die hysbakke, probeer skakel het, maar hulle kon nie antwoord kry nie.

Die vasgekeerde vrou se kollega het vir haar water met ’n strooitjie deur die gleuf tussen die hysbak se deure gegee. “Daar is nie ’n waaier binne die hysbak nie en sy was erg ontwater,” sê haar kollega. Die brandweer is in kennis gestel, wat die hysbak se deure met die reddingskake (“jaws of life”) oopforseer het. Die vrou is ’n uur en ’n half later, ontwater en in skok, maar sonder enige beserings uit die hysbak gered.

Dit is glo nie die eerste keer dat dié huisbakke probleme gee nie. “Die hysbak gaan staan gereeld met mense,” sê die kollega. Sy sê die maatskappy wat vir die instandhouding van die hysbakke verantwoordelik is, is ongelukkig omdat die hysbak se deure oopforseer is. Hulle beweer ook dat hul geen oproep van die vasgekeerde vrou ontvang het nie.

* Die Herald kon teen druktyd nog nie met die maatskappy in kontak kom nie.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version