NewsNews

Oud-student sterf in kaping

’n Oud-student van Potchefstroom Akademie is op 9 Februarie om 21:20 tydens ’n kaping voor haar ma se huis doodgeskiet. Abigail Meyer (bekend as Abe) het in 2016 somatologie aan Potchefstroom Akademie studeer, waar sy ook in die koshuis gewoon het. Sy het egter besluit om eerder as ’n mediese vrywilliger saam met haar paramedikus-ma, …

’n Oud-student van Potchefstroom Akademie is op 9 Februarie om 21:20 tydens ’n kaping voor haar ma se huis doodgeskiet.

Abigail Meyer (bekend as Abe) het in 2016 somatologie aan Potchefstroom Akademie studeer, waar sy ook in die koshuis gewoon het. Sy het egter besluit om eerder as ’n mediese vrywilliger saam met haar paramedikus-ma, Elzona Meyer, te werk.

Vrydagaand het Abigail saam met ’n kollega buite haar ma se huis in Heidelberg in Gauteng gestop om haar motor te gaan bêre sodat sy saam met haar kollega kon ry om te gaan kos koop. Toe sy in haar kollega se motor klim, het ’n ander motor agter hulle gestop en deur die venster op hulle geskiet.

Abigail en haar kollega is uit die motor gepluk, waarna die kapers met die motor weggejaag het. Abigail is egter in haar maag geskiet.
Paramedici het op die toneel gekom en Abigail se ma, Elzona en haar kollegas het Abigail probeer stabiliseer terwyl hulle vir ’n helikopter gewag het.

Abigail is na die Unie-hospitaal in Alberton geneem, waar sy later aan haar skietwond beswyk het. Abigail se vriendin van Potchefstroom Akademie, Kayla Viviers, beskryf haar as die sonskyn binne en buite die klas.

“Abe het vir almal hoop gegee en ons elke dag positief gehou. Ek onthou toe ons in ons eerste jaar noodhulp opleiding gekry het, toe sê Abe nog vir ons almal dat die noodhulpklas haar laat besef het wat sy regtig eendag in haar lewe wil doen en wat haar passie eintlik is.”
Kayla sê dat Abigail altyd die beste vir almal wou gehad het en dat sy nooit negatief was nie.

“Sy het altyd almal se gevoelens in ag geneem en het seker gemaak almal om haar weet dat haar skouers sterk genoeg is om al die trane te vang,” sê sy.

“Ek kan met alle trots sê dat sy my vriendin was. Abe het onmenslik baie mense se lewens verander met haar goeie hart en goue persoonlikheid.”

Kayla sê dat hoewel Abigail se vriende almal baie hartseer is, hulle verkies om die goeie tye saam met haar te onthou.

“Ek is so dankbaar dat ek die kans gekry het om ’n deel van Abe se lewe te wees en ek weet almal wat haar geken het, sal saamstem.

“Al die studente en dosente by Potch Akademie het ‘n spesiale plek in hulle harte vir Abe gehad. Ek sal haar nooit vergeet nie. Niemand van ons sal nie.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button