NewsNews

Aardklop – gewildste fees in die land

Slegs twee jaar nadat Potchefstroom se gunsteling kunstefees byna tot ’n einde gekom het, is Aardklop as Suid-Afrika se gewildste kunstefees gekroon. Die aankondiging is Donderdagaand 8 Februarie by Montecasino Teatro in Johannesburg tydens die kykNET Fiësta-toekennings gemaak. Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, het met die ontvangs van die toekenning gesê: “Dit is nie sleg …

Slegs twee jaar nadat Potchefstroom se gunsteling kunstefees byna tot ’n einde gekom het, is Aardklop as Suid-Afrika se gewildste kunstefees gekroon.

Die aankondiging is Donderdagaand 8 Februarie by Montecasino Teatro in Johannesburg tydens die kykNET Fiësta-toekennings gemaak.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, het met die ontvangs van die toekenning gesê: “Dit is nie sleg vir ’n fees wat se deure twee jaar terug toegemaak is nie. In so ‘n kort tydperk is die fees van niks af opgebou tot die gewildste fees in die land!”

“Ons het letterlik binne twee jaar van ‘zero’ na ‘hero’ gegaan,” sê sy.

Volgens haar het dit baie harde werk geverg om die fees van die grond af te moes opbou en op so ’n standaard te kon kry dat hulle vir veertien toekennings by die Fiestas genomineer is. Uit die veertien het hulle met vyf toekennings huis toe gekom.

Talle Aardklop debuutproduksies is ook by die toekenningsgeleentheid vereer.

Wenner van die beste akteur is Paul du Toit vir sy rol in Melk & Vleis. Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks is gegee aan Marina Albertyn, ook vir Melk & Vleis en Retief Scholtz is as beste opkomende kunstenaar aangewys vir teks vir Dop en Weerkaats.

Boonop het DEURnis met die gesogte Blou Fiësta-toekenning weggeloop. Hierdie een-tot-een teaterproduksie het vanjaar groot opspraak gemaak weens die intieme en eksperimentele aard daarvan.

Strachan sê verder dat Aardklop juis die platform hiervoor geskep het om te verseker dat hierdie unieke en uitdagende produksie raakgesien kan word.

As ’n jong fees het Aardklop ook ’n belegging gemaak in ’n jong, vars en dapper stem – die skrywer Marina Albertyn. “Gelukkig het die veelbekroonde regisseur Marthinus Basson en KunsStig saam met ons in die projek geglo.

Die resultaat was ’n ontstellende en beeldskone produksie.” In 2018 sal nog ’n produksie uit Albertyn se pen en onder leiding van Basson by Aardklop debuteer.

“Ons wil graag elke Potchefstromer bedank vir hul gasvryheid en die merkwaardige rol wat hulle in die sukses van die fees speel. Aardklop hoort op die Bult, in die hartjie van Potchefstroom, maar ons kan nie alleen die rooitapyt vir duisende feesgangers uitrol nie, dit doen die Potchefstromers saam met ons,” sê Strachan.

Aardklop sal vanjaar van 2 – 7 Oktober in Pothefstroom plaasvind. Die fees sal om 1 Oktober afskop met die immergewilde Kunssafari.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button