NewsNews

Remme aan oor ‘padpuisies’

Die oprigting van die nuwe spoedhobbels wat deur die inwoners van Potchefstroom as “padpuisies” gedoop is, gaan vir eers gestaak word.

Die oprigting van die nuwe spoedhobbels wat deur die inwoners van Potchefstroom as “padpuisies” gedoop is, gaan vir eers gestaak word.
Dit nadat verskeie departemente laat Woensdagmiddag (24 Januarie) hieroor vergader het.
Volgens Malcolm Grimbeek, verkeershoof, het die raad geen beleid oor die oprigting van verkeerskalmering nie. Raadgewende ingenieurs is nou aangestel om dié beleid op te stel. ’n Proses sal van stapel gestuur word om die beleid te implementeer, wat openbare deelname sal insluit.
Twee inwoners het onlangs op hul eie ’n opname by Klinkenberg- en Offenbachstrate gedoen waar van die nuwe geel spoedhobbels aangebring is.
Die opnames is gedoen wanneer die meeste mense op pad werk toe of van die werk af op pad huis toe is. Tydens die opname het 775 voertuie oor die spoedhobbels gery.
Volgens die inwoners, wat anoniem wil bly, sluit dit nie voertuie in wat bloot om die hobbels gery het nie.
Van die voertuie was 583 ligte voertuie en 92% van dié voertuie het spoed verminder om oor die hobbels te ry.
Die ander 192 voertuie was viertrekvoertuie en vragmotors, waarvan slegs 52% spoed verminder het. Van die vragmotors het slegs 42% spoed verminder.
“Is die spoedhobbels dan werklik effektief as daar ’n onrusbarende getal voertuie is wat glad nie spoed verminder nie, wil die inwoners dan weet?
Hulle wil ook weet watter statistiek, indien enige, gebruik is om te bepaal waar die hobbels aangebring moet word, wat die koste van die hobbels is, wie het besluit op die hobbels, wie daarvoor moet betaal en of ander verkeerskalmeringsmaatreëls oorweeg is.
Volgens Grimbeek is die besluit deur die betrokke wyksraadslede in samewerking met verkeer en infrastruktuur gemaak en dié wyke se fondse is gebruik om die spoedhobbels aan te bring.
“Ons het saam met die raadslede rondgery om plekke te identifiseer waar die hobbels effektief sal wees,” sê hy.
Grimbeek het na verskeie ongelukke verwys waar die hobbels opgerig is. Onder andere ’n jong man wat in ’n motorfietsongeluk oorlede is by die sirkels in Thabo Mbekistraat, mense wat omgery is by die voetoorgang in Govan Mbekirylaan en in Beyers Naudé waar ’n skolier voor die skool raakgery is.
Volgens hom kos die hobbels ongeveer R15 000 per strook wat in vergelyking met ander maatreëls die mees koste-effektief is.
“Vaste kameras moet deur die departement van openbare vervolging goedgekeur word.
Selfs al keur hulle dit goed, sal dit ongeveer R1 miljoen per kamera kos,” sê Grimbeek.
Die wyksraadslede waar die spoedhobbels aangebring is, het saam op die Herald se navraag gereageer.
Hulle sê dié spoedhobbels is “een van die ongerieflike, maar noodsaaklike dinge wat ons moes doen om padveiligheid in ons omgewing te verbeter.”
Volgens hulle is die saak in wykskomiteevergaderings bespreek en wykskomiteelede het insette gelewer oor waar die behoefte vir verkeerskalmering bestaan en het die plasings goedgekeur.
“Die befondsing het uit wyksfondse gekom en moenie verwar word met die stadsraad se begroting vir instandhouding soos byvoorbeeld die herstel van slaggate, ensovoorts nie.
Hulle meen daar is ‘n groot behoefte aan ‘n goedgekeurde Geïntegreerde Verkeersplan (ITP).
Die stadsraad het al vir jare nie ‘n verkeersingenieur nie en daar is dus nie iemand om sulke projekte te bestuur en te implementeer nie.
Die ITP moet ook hand-aan-hand loop met die geïntegreerde ontwikkelingsplan en daar moet dus begroot word hiervoor.
Die spoedhobbels, DuraBumps, mag dus ‘n tussentydse maatreël wees en eendag deur ander verkeerskalmeringsmaatreëls vervang word. “Intussen het ons ‘n verantwoordelikheid om ons buurte en besige paaie veiliger te maak,” sê die raadslede.
Volgens Grimbeek is meeste mense met wie hy te doen het positief oor die hobbels.

Related Articles

 
Back to top button