NewsNews

Ma steeds in koma na Louwstraat-aanval

Die vrou wat sowat twee maande gelede tydens ’n huisroof in Louwstraat aangerand is, is steeds in ’n koma in Mediclinic Potchefstroom.

Die vrou wat sowat twee maande gelede tydens ’n huisroof in Louwstraat aangerand is, is steeds in ’n koma in Mediclinic Potchefstroom.
Lily (66) en Boeta Smit (69) is op 1 Desember in hulle huis in Louw-straat aangeval. Boeta het op die toneel aan kopbeserings beswyk.
Volgens Lindie van Dyk, die egpaar se dogter, het dokters vir hulle gesê dit blyk dat Lily vir die res van haar lewe in ’n vegetatiewe toestand gaan wees.
“My ma haal self asem, haar hart klop vanself, maar die dokters sê die breinskade is baie erg.
“Ons soek nou maar na plekke waar sy versorg kan word,” het van Dyk Woensdagmiddag aan die Herald gesê.
Die verdagte, Pfunzo Netshiangolwe (29), wat kort na die aanval in hegtenis geneem is, het Donderdag (25 Januarie) weer in die landdroshof in die stad verskyn om aansoek te doen vir borg. Tydens die borgaansoek het Netshiangolwe aangedui dat hy niks weet van die voorval nie. Hy is nie borgtog toegestaan nie waarna die saak na 26 Februarie in die hooggeregshof uitgestel is.

Phunzo Netshiangolwe(29), staan tereg op n aanklag van moord.foto Mario van de Wall

“Mens voel maar woede. Ek wil net graag weet hoekom hy dit aan my ouers gedoen het.
“Gelukkig ondersteun ons as familie mekaar baie,” het van Dyk gesê.
Boeta is op die dag van die aanval in die vroeë oggendure na buite om ondersoek in te stel nadat hy ’n geluid gehoor het. Hy is oor die kop geslaan, waarna hy deur die verdagte na die kombuis gesleep is, waar Lily ook met ’n stomp voorwerp erg aangerand is.
Netshiangolwe het met die egpaar se bakkie gevlug, waarna hy twee ongelukke veroorsaak het terwyl veiligheidsgroepe hom agternagesit het.
Hy staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en roekelose en nalatige bestuur.

Related Articles

 
Back to top button