Wees versigtig vir dié dodelike siekte

Daar is vanjaar nog net een geval van listerellose in Potchefstroom aangemeld. Volgens Nevashan Govender van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is dit een van 14 gevalle in die Noordwes, waarvan vyf in die Kenneth Kaunda-distrik aangemeld is. Hierdie dodelike siekte het die afgelope paar maande landwyd drasties gestyg. Listerellose het reeds die …

Daar is vanjaar nog net een geval van listerellose in Potchefstroom aangemeld. Volgens Nevashan Govender van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is dit een van 14 gevalle in die Noordwes, waarvan vyf in die Kenneth Kaunda-distrik aangemeld is.

Hierdie dodelike siekte het die afgelope paar maande landwyd drasties gestyg. Listerellose het reeds die dood van meer as 36 pasiënte landwyd veroorsaak.

Volgens ’n artikel op WebMD is Listerellose ’n tipe voedselvergiftiging wat veroorsaak word wanneer mense voedsel eet wat besmet is met die Listeria monocytogenes bakterie.

Die minister van gesondheid dr. Aaron Motsoaledi het in ’n persverklaring op 5 Desember gesê dat hoewel listerellose ’n siekte is wat jaarliks voorkom, dit nou skielik in Suid-Afrika toegeneem het, en dat dit nou as ’n gevaarlike uitbraak beskou word.

Die Multisectoral National Outbreak Response Team (MNORT) is ingelig oor die situasie in die land, en is besig om die oorsaak van die stygende gevalle te ondersoek.

Waar daar in die algemeen tussen 60 en 80 gevalle van die siekte jaarliks aangemeld word, is daar reeds vanaf 1 Januarie vanjaar minstens 557 gevalle van die siekte bevestig, waarvan die meerderheid (62%) in die Gauteng Provinsie aangemeld is. 13% van die gevalle is in die Wes-Kaap aangemeld en 7% in KwaZulu-Natal.

Volgens Motsoaledi is 34% van die totale gevalle mense wat gebruik maak van privaat gesondheidsfasiliteite, wat beteken dat die bakterie heel moontlik in ’n voedselsoort voorkom wat landwyd deur verskillende sosio-ekonomiese groepe geëet word.

Swanger vroue, pasgeborenes, bejaardes en volwassenes met verswakte immuunstelsels is veral vatbaar vir listerellose.

Indien ’n swanger vrou met die siekte gediagnoseer word, kan dit ’n miskraam, voortydige geboorte, ernstige infeksie by die pasgeborene of ’n stilgeborene veroorsaak.
Gesonde volwassenes en kinders kan ook deur die bakterie aangetas word, maar word selde ernstig siek daarvan. Babas kan ook gebore word met die siekte as hul moeders besmette kosse eet tydens swangerskap.

Simptome van listerellose:

Dit sluit onder meer koors, spierpyn, naarheid en diarree in. Wanneer die infeksie versprei het na die senuweestelsel, kan dit ook hoofpyn, ‘n stywe nek, verwarring, ongebalanseerdheid en selfs stuiptrekkings tot gevolg hê, maar swanger vroue kan soms slegs ’n ligte grieperige gevoel kry, wat ‘n miskraam tot gevolg kan hê.

Die Wêreld Gesondheidsorganisasie gee vyf riglyne oor hoe om veilig te wees wanneer voedsel gebruik word:

•Was jou hande deeglik voor jy met kos werk, en gereeld tussendeur.
•Moet nie aan gaar kos vat nadat jy aan rou kos gevat het nie, en skei die twee altyd. Was ook ou hande deeglik as jy aan rou kos gevat het.
•Kook kos deeglik en moet nooit half-gekookte of rou kos (veral vleis) eet nie. Kos wat nie gekook word voor dit geëet word nie, moet deeglik met skoon water gewas word.
•Stoor kos in veilige temperature. Kos wat koud moet bly, moet in ’n yskas bly en kos wat warm geëet moet word, moet goed verhit word.
•Gebruik altyd veilige en skoon water vir huishoudelike gebruik en gebruik altyd gepasteuriseerde melkprodukte.

Exit mobile version