Oud-soldaat terug in Potch en leer loop

’n Oud-Volkie wat in 1982 sy bene tydens die Grensoorlog verloor het, is weer terug in Potchefstroom.

’n Oud-Volkie wat in 1982 sy bene tydens die Grensoorlog verloor het, is weer terug in Potchefstroom.
Vir Anton van Rooyen of “Tone” soos almal hom noem, voel dit soos ’n tuiskoms om weer in Potchefstroom te wees.
“My skoolvriendin, Wilma Brown, het woonstelle in haar erf en sy het voorgestel ek kom Potch toe. Ek is gelukkig, dit is ’n skoon netjiese stad,” vertel hy.
Die Herald het in Augustus berig dat Tone, wat reeds 35 jaar vir kunsbene gewag het, uiteindelik sy bene gaan kry. Hy het kort na die verskyning van die berig Potchefstroom toe getrek om hier verder aan te sterk.
Hy ry Maandae tot Vrydae die 4 kilometer met sy rolstoel na sy afsprake by dr. Pieter Scholtz, sy fisioterapeut.
“Dit is harde werk, maar ek geniet die pyn en alles. Ek gaan vasbyt,” het hy gesê.
Volgens Tone kom hy elke dag bietjie nader aan sy uiteindelike doel om weer self te loop.
Hy het Dinsdag ’n inskrywing op Facebook gemaak waar hy sy opgewondenheid uitspreek, nadat hy dit reggekry het om sonder hulp regop te staan en self ’n paar tree te gee.
Die afgelope tyd se reën het sy fisio bietjie gekelder, maar Tone bly optimisties.
Tone is op 10 Mei 1982 tydens operasie Yahoo naby Outjo in Namibië meer as 12 keer geskiet.
Weens ’n administratiewe fout moes hy so lank wag vir sy bene. Volgens hom is dit ’n bitter pil om te sluk dat dit 35 jaar geneem het voor iemand die fout agtergekom het, veral na die opofferings wat hy vir die land gemaak het.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version